(Waarskuwing Grafiese Inhoud) – Hond vreet been af
’n Hond wat deur ’n voertuig raakgery is, het weens pyn ’n gedeelte van sy been begin afvreet.
Die veeartse by Kanonkop en Oribi Diereklinieke sê hulle moet gereeld troeteldiere vir ernstige beserings behandel of uitsit wat in die strate raakgery word.
Die boodskap is duidelik: hou jou dier in jou erf!
Dr. Jolindie Kruger (veearts) sê hulle was geskok toe hulle ’n hond gekry het wat sy eie been begin wegvreet het. Die dier het dit gedoen weens die pyn.
Hulle moes die hond se been in die blad amputeer.
Daar is net één oplossing: Maak seker jou dier kan nie uit die erf kom nie!
“As jou hond uit die erf kom en hy word raakgery, gaan dit jou tussen R3 000 en R5 000 kos vir behandeling en ’n operasie. Is die besering te erg, gaan jou hond boonop vrek of uitgesit word.”
Sy sê die diere kom gewoonlik in met pelvis- en beenfrakture “en die arme mense wat hulle raakry, voel dan verantwoordelik. Die eintlike persoon wat die verantwoordelikheid moet neem, is die eienaar wat nie sy diere in sy erf hou nie.”

Dr. Kruger sê op die Facebookgroep, “Middelburg Diere: Verlore of Gevind” word daar na dosyne diere gesoek.
Rondloper honde is ook gereeld in gevegte deur die drade of palissades, wat ernstige bytwonde veroorsaak.
Wat dr. Kruger die meeste bekommer, is die gevaar wat rondloperhonde vir drawwers, mense wat met hul honde gaan stap en veral kinders inhou.
“Gaan mense eers hul honde in hul erwe begin hou, wanneer ’n kind erg beseer word met ’n bytwond?”
• Senior inspekteur Petro Oberholzer (Bestuurder: Middelburg Dierebeskermingsvereniging) het beaam dat rondloperhonde ’n probleem is.
“Die DBV kan nie rondhardloop agter honde in die strate nie, want as die dier weghardloop en voor ’n kar beland, dan is ons in die moeilikheid. Al wanneer ons kan kom help, is wanneer die dier toegemaak word, dan kan ons hom kom oplaai.”
