Kragopwekker ontplof
Terwyl sy seun in 'n vlammesee gehul was na 'n kragopwekker ontplof het, het 'n pa self brandwonde opgedoen in 'n heldhaftige reddingspoging.
Die kleinseun van die bekende plaaslike egpaar, Billy en Fébé Wilson (eienaars van Big Five Bed & Ontbyt) word vir 86% brandwonde behandel, nadat ‘n kragopwekker op sy verjaardag ontplof het.
Zurie Wilson (22) word sedert die nag van 6 Mei in die Milpark Hospitaal se intensiewe eenheid vir die brandwonde behandel.
Volgens mnr. Billy Wilson het hulle laat die nag die boodskap gekry dat sy kleinseun erge brandwonde opgedoen het. “Dit is ‘n tragiese sameloop van omstandighede. Die een oomblik vier hy sy verjaardag en die volgende oomblik is sy liggaam aan die brand!”
Mnr. Wilson se seun, Eran, en sy gesin bly die afgelope paar jaar in Lusaka (Zambië) en Zurie het op 6 Mei sy 22ste verjaardag daar gevier.
Daar was ‘n kragonderbreking weens beurtkrag en Zurie het aangebied om die kragopwekker te gaan aanskakel in die motorhuis.
Hy het brandstof saamgeneem om die kragopwekker op te vul. Die volgende oomblik het die kragopwekker ontplof.
Sy pa, het na binne gestorm en gesien dat sy seun in vlamme gehul is. Zurie se ma, Rika, wou ook die vlamme inhardloop om haar seun te help, maar Eran het vir haar geskreeu: “moenie saamkom nie, bly weg uit die vlamme uit!”
Zurie se beste vriend, Nico Till, asook sy broer, Triston (18), het die vlamme saam met Zurie se pa trotseer.
Nadat hulle die vlamme geblus het, het Eran sy seun ondersteun totdat hulp opgedaag het.
“Zurie het vir sy pa gesê: “dad, I don’t think I am going tot make it.’ Sy pa se antwoord was: ‘you are a winner, you will make it.” Kort daarna het die seun sy bewussyn verloor, vertel mnr. Wilson.
Daar is dadelik gereël dat Zurie oorgevlieg word na die Milpark Hospitaal in Johannesburg. Zurie se pa en broer en Nico het almal brandwonde opgedoen, maar daar was nie fondse beskikbaar dat Nico ook dadelik oorgevlieg kon word Suid-Afrika toe nie.
“Vriende van Eran en Rika het egter binne ‘n uur en ‘n half R250 000 bymekaar gemaak dat Nico net etlike ure later ook oorgevlieg kon word,” sê mnr. Wilson.
Mnr. Eran Wilson en Triston is reeds uit die hospitaal ontslaan. Nico en Zurie word steeds vir hul brandwonde behandel.
Mnr. Wilson het gesê dat hulle dankbaar is vir almal se gebede en ondersteuning.
“As die brandwonde te diep was, sou hulle nie veloorplantings kon doen nie. Ons glo gebede het bygedra daartoe dat toetse gewys het dat hulle wel veloorplantings op Zurie kan doen. Hulle het reeds sintetiese vel op sy rug en linkerbeen gesit en Dinsdag (vandag) gaan hy terug teater toe vir oorplantings op sy linkerbeen.”
Lees verwante stories:
Video: Huis brand in AD Keet straat
• Die Wilson egpaar doen ‘n beroep op die Middelburg gemeenskap “om die Here te vra dat Hy hom spaar en deurdra.”.
• Zurie se pa, Eran, was as jong seun ‘n leerling van Laerskool Middelburg, waarna hy opgeneem is in die Drakensbergse Seunskoor.
• Die Wilson-egpaar is inwoners van Middelburg sedert 1994.
• Me. Fébé Wilson sou verlede week ‘n pasaangeër kry weens hartprobleme, maar die operasie is uitgestel na 13 Junie sodat sy en haar man hul seun en kleinseun kan ondersteun. Hulle het sedert die gebeure al drie keer na Johannesburg gependel om te gaan kyk hoe dit met Zurie gaan.

