Opvolg: Verbind met moord op Ermelo
Is dieselfde groep wat Donderdagaand, eers op die ou Middelburg/eMalahlenipad en later op Ermelo op mense losgebrand het, dieselfde bende?
Mnr. Oubaas de Jager, eienaar van die ACSU (Anti Crime Security Unit) op Ermelo, glo die groep wat ’n kitsbank op hul dorp opgeblaas en losgebrand het op sy lede, is dieselfde bende wat twee jong mans van Middelburg Donderdagaand gewond het.
“Die tydsduur vanaf die skietery op die mans, tot by die aanval op my mense, laat my glo dat dit dieselfde groep is.”
Marno van Tonder en Hardus Truter (albei 24) is Donderdagaand gewond toe hulle vanaf Middelburg na eMalahleni in Marno se Ford Bantam bakkie gependel het.
Die twee het by Amazon’s Restaurant gaan eet, waarna hulle besluit het om na Hardus se pa, Gerhard, in eMalahleni te ry.
Naby die Olifantsrivierbrug het ’n wit voertuig hul verbygesteek en die insittendes het vir hulle gewaai. Die volgende oomblik het die skote op die voertuig gereën.
Hardus is met skrapnel in die kop gewond en Marno is deur die sy geskiet. Hy was teen druktyd nog in die intensiewe eenheid van die Life Kosmos Hospitaal. Dokters moes ’n deel van sy dik- en dunderm verwyder.
• Mnr. De Jager het hierdie week die Observer genader om te vra vir die jong mans se kontakbesonderhede, aangesien daar ook sonder rede net op sy sekuriteitswagte losgebrand is.
Alhoewel daar met swaar kaliber wapens (R5 of R4 aanvalsgewere) op sy lede geskiet is, glo hy dat die groep beslis ook handwapens by hulle gehad het waarmee hulle op die Middelburg mans geskiet het.
Omstreeks 01:30 is die Oaks Sentrum in Ermelo geskud deur ’n Standard Bank kitsbank wat ontplof het.
Leees vorige stories hier:
Opvolg: Skote op voertuig geskiet
Nuusflits: Jong man in kop en sy geskiet
Exclusive video of ATM Bombings at Midwater centre
Standard Bank ATM bombed at Midwater Centre
Mnr. De Jager sê videomateriaal wat hulle later bekom het, wys hoe die groep van Hendrina se kant af die dorp ingery het.
By die tweede verkeerslig in die dorp, het hulle een van hul makkers afgelaai, wat met ’n outomatiese aanvalsgeweer (waarskynlik ’n R5) stelling agter ’n boom ingeneem het.
“Die res van die groep het aangery tot by die sentrum, waar twee uitgespring en in die rigting van die kitsbank gehardloop. Een het in die voertuig bly wag. Kort hierna het die kitsbank ontplof.”
ACSU het die alarmsein ontvang en mnr. Steven Cwaile het eerste gereageer. By die verkeerslig naby die sentrum, het die rower van agter die boom af op sy voertuig losgebrand. “Steven se pet is van sy kop af geskiet en hy moes omdraai en wegjaag. Daar is agt skote op hom gevuur!”
Net minute later het mnre. Bashin Nkosi (bestuurder van die voertuig) en Dirk Ackermann (passasier) ook na die sentrum gejaag op reaksie van die alarmsein.
“Sowat 30m vanaf die verkeerslig het die man agter die boom op hul voertuig begin skiet!”
Mnr. Nkosi is in die laer rug gewond en kon nie verder ry nie. Die oomblik toe die voertuig tot stilstand kom, het mnr. Ackermann uitgespring en probeer wegvlug vanaf die koeëlreën.
“Hy is oor ’n afstand van 60m van agter af in die kop geskiet. Hy het op die toneel gesterf,” het mnr. De Jager gesê.
• Die aand van 9 Mei is die Standard Bank kitsbank by die Midwater Sentrum in Aerorand opgeblaas. Videomateriaal het gewys dat ’n groep van sowat vyf betrokke was.
’n Wit VW Golf is gebruik tydens dié aksie en ’n wit Mercedes was die wegkomkar in Ermelo. Mnr. De Jager sê alle aanduidings is, dat dit dieselfde groep is wat in Middelburg en Ermelo toegeslaan het.
• Die Valke (Georganiseerde Misdaadeenheid) ondersoek die aanval in Ermelo.
Lees verwante stories:
Stolen items recovered, two arrested
Video: Car guard’s hidden talent



