News

Video: Chantel se pad na herstel

Twee maande nadat Chantel Swart se liggaam vergruis is in ’n ongeluk, het sy haar eerste treetjie op die pad na herstel geneem.

Me. Swart is in die Milpark hospitaal opgeneem met nege beenbreke en ernstige inwendige beserings. Terwyl haar liggaam met masjiene aan die lewe gehou is, is ’n wasige donskombers oor haar brein getrek.

Haar lewe het aan ’n draadjie gehang. Maar haar familie het nie gevrees nie. Haar pa, Tjaart Venter, ook nie.

“Ek was vir amper ’n maand lank in ’n koma. Aan die begin was ek erg deurmekaar,” vertel sy.

Nadat sy op 13 April ‘wakker’ geword het, voer sy ’n opdraende stryd na herstel. Een wat elke tree wat sy gee, ’n geskenk van Bo is.

Lees vorige storie hier:

Bend claims another life

Waar Jan Alleman se slimfoon hom daagliks herinner dat hy sy teiken van 3 000 treë bereik het, was me. Swart se eerste tree vir haar byna so belangrik soos wat Neil Armstrong s’n destyds op die maan, vir die mensdom was.

Van die lank lê het haar liggaam swak geword. Sy moet nou van voor af leer loop. Op 17 Mei het sy haar eerste tree gegee. “Nou vat ek al sommer twee!” vertel sy opgewek.

Me. Swart kan nie wag om uit die hospitaal ontslaan te word nie.

“As ek terug kom in Middelburg gaan ek aan met my besigheid wat ys maak. Ek het myself intussen sommer bietjie af gegee,” skerts sy.

Die ongelukstoneel waar Chantel Swart ernstig beseer en ’n ander vrou, Zodwa Linah Mahlangu (55), gesterf het.
Die ongelukstoneel waar Chantel Swart ernstig beseer en ’n ander vrou, Zodwa Linah Mahlangu (55), gesterf het.

Sy moet nog ’n maand in die hospitaal in Johannesburg bly waar sy naby die kundige hande van dokters en ’n fisioterapeut is. Deel van haar rehabilitasie program sluit in dat sy oefeninge in ’n swembad doen, waar die water help om haar brose bene te steun en haar spiere geleentheid gee om weer sterk te word.

Maak nie saak hoe opdraend die pad na herstel mag lyk nie, Chantel durf dit blymoedig aan.

“Ek kan nog steeds niks onthou van die ongeluk nie,” sê sy. “Ek sou dit nie kon doen sonder my ma en Quinton (haar man) nie,” sê sy dankbaar.

• Me. Swart is ernstig beseer toe ’n Toyota Hilux dubbelkajuit in reënweer om die draai in Walter Sisulustraat beheer verloor en bo-oor haar motor gerol het.

Een vrou, Zodwa Linah Mahlangu (55), wat as huishulp in Middelburg gewerk het, is in die ongeluk dood. Sy het ’n rygeleentheid na eMalahleni, waar sy gewoon het, saam met die bestuurder van die Toyota gekry.

Lees ander stories hier:

3 children dead after tree slices through car

Pa, 3 kinders, sonder skrapie uit wrak

 

 

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button