News

Wat lê op dam se bodem

'n Driedimensionele sonar op 'n boot het al 'n trekker en kano's op die Middelburgdam se bodem gekry, maar sy oog kon tot op hede nie 'n gesinkte boot opspoor nie.

Daar word al vir bykans drie maande gesoek na die boot van mnr. Roelf van Aarde wat op 5 Maart 2016 in die Middelburgdam gesink het.

Mnr. Braam Botha en Steve Botes het die boot vir ‘n toetsrit op die dam geneem nadat mnr. Botha aan die boot gewerk het. Mnr. Botha het later aan die Observer vertel dat die boot se enjin afgeskeur en die boot binne minute gesink het.

Hulle moes later uit die dam gered word, nadat hulle ‘n geruime tyd in die water was en om hulp geroep het.

Sedert sy boot gesink het, is mnr. Van Aarde elke dag by die dam en het hy al meer as R40 000 spandeer om sy boot op te spoor.

“Mense het my pa al gevra hoekom hy nie net ‘n ander boot gekoop het nie. My pa wil egter sekerheid kry en sal nie ophou soek totdat hy hom gevind het nie,” het mnr. Van Aarde se dogter, Vanessa, gesê.

Sy self het al “anker getrek” agter ‘n boot tot haar hande bloei met die hoop dat hulle iets sal vind. “Ons voel al letterlik soos ‘damduikers’, want ons is elke dag daar om na die boot te soek.”

Me. Van Aarde sê polisieduikers van Sabie en Middelburg het ook al ure in die water spandeer om te soek. “Hulle het ‘n anker opgespoor, maar dit was nie van ons boot nie.”

Hulle het selfs professionele swartbaarshengelaar, mnr. Buks Human, gevra om met die nuutste sonartegnologie te help soek.

Hierdie driedimensionele ‘Humminbird’ sonar het hy gedurende Desembermaand ingevoer vanaf Amerika om veral swartbaars onder water te vind. “Ons gebruik dit om strukture onder water te kry waar die vis kan wegkruip soos rotse en groot bome.”

Tydens sy soektog het hy onder andere die trekkertjie en sleepwa van die munisipaliteit, wat sowat vier jaar gelede in die water ingeloop het, gevind. Alhoewel dit redelik verberg was met slik, kon hulle duidelik die buitelyne sien op die sonar.

Hulle het ook ‘n kano en ou beeskrale onder water gesien, waar mense jare gelede, voor die bou van die dam, gebly het.

Mnr. Human sê hy het sowat 50% van die dam deurkruis, maar hulle kon nie die boot opspoor nie.

Volgens hom is die onderste drie tot vier meter van die dam met slik bedek. “Dit is soos ‘n dik sop. As die boot op ‘n harde oppervlakte te lande gekom het, sou die sonar hom dadelik opgetel het. As hy egter onder die slik verdwyn het, sal die sonar hom nie sien nie.”

Hy sê dat die Middelburgdam ten minste 10% slik op sy bodem het en dit dalk die rede is hoekom hulle nog nie die boot raakgesien het nie.

• Mnr. Human het sy sonar gestel om te kyk hoe diep die dam tans is en sê dit is op sy diepste plek sowat 80 voet (ongeveer 26m).

• Mnr. Human en sy spanmaat, Louis Cooper (van Gauteng) lê tans eerste in die “SA Cast-for-Cash” swartbaars hengelreeks (Mpumalanga) tussen 40 spanne.

Lees ander stories hier:

Video: Damvakansie het tragiese einde

Video: Pienaardam die leegste ooit

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button