Vier winkels beskadig in brand
Groot skade is aan verskeie winkels aangerig na 'n brand by Foschini in Herefordstraat ontstaan het.
Loskop Alarms het omstreeks 23:35 Dinsdagaand ‘n alarmsein ontvang nadat die alarm van die kantoor in Foschini afgegaan het.
Die reaksiespan van Loskop Alarms het rook by Foschini sien uitkom en dadelik die brandweer ontbied.
Hul het ook Gunmar Sekuriteit in kennis gestel toe hul rook by JC Fashions, direk langs Foschini, opgemerk het. Dié besigheid is ‘n kliënt van Gunmar.
Die roldeure van Foschini se slotte is oopgebreek om binne die winkel te kan insien. Toe hulle vlamme in die winkel sien, het hul die deure oopgebreek om die vuur te kan blus.
“Die vlamme was nog klein, maar na die vlamme eers suurstof gekry het, het chaos uitgebreek! Die vuur het groter geword en handuit geruk,” sê mnr. Danré van Wyk van Loskop Alarms.
Die vlamme het vinnig van die een winkel na die ander versprei.
“Net as hulle dink hul het die vlamme onder beheer, spring dit op by die volgende plek. Die vlamme het na JC Fashions gespring en ook na Ali’s Cell, waarna dit weer na Benjamin’s Juweliers beweeg het,” vertel me. Yolanda Botha van Gunmar.
Lede van Loskop Alarms, Gunmar Sekuriteit, die polisie en die brandweer het vir vier en ‘n half ure lank gestoei om die brand te blus. Vier winkels het erge skade opgedoen.
Me. Hannelie Ehlers, eienaar van Egoli Juweliers langs JC Fashions, sê sy kan “net die Vader dank” dat haar winkel nie ook verswelg is in die vlamme nie.
“Ek kan nie genoeg vir Jan en Yolanda en die personeel van Gunmar Sekureit bedank nie! As dit nie vir hulle was wat die muur en dak van my winkel natgespuit het toe die vlamme na my winkel begin lek het nie, was my winkel ook daarmee heen!
“Die personeel van Gunmar het nie geskroom om by die winkels in te gaan om die vuur te help blus nie. Ek is hul ewig dankbaar,” sê me. Ehlers.
• Die oorsaak van die brand word ondersoek.






