Opvolg: Lemoentrok keer om
'n PFV Freight-trok wat van Potgietersrus Citrus se pakhuis na koelkamers in Durban onderweg was, het omstreeks 04:00 by die verkeerslig by Protea en Meyerstraat kruising omgeslaan het.
“Die lemoene se eindbestemming sou Kanada, Asië en die Midde-Ooste wees,” sê mnr. Craig Jansen, woordvoerder vir SAFPRO-verspreiders.
Volgens mnr. Dirk du Plooy van PFV Freight in Polokwane, het die trok omgeslaan as gevolg van die pad wat te skuins is.
“Dit is die tweede trok wat ons op dieselfde plek verloor en soos ek na die polisie geluister het, is daar gereeld trokke wat daar omslaan. Dit is ‘n groot probleem waaraan niemand iets doen nie.”
Trokke word, volgens mnr. Du Plooy, gedwing om die pad te ry wat nie geskik is vir swaar trokke nie.
“Ons het ervare drywers, maar dit help nie as jy forseer word om só pad te ry omdat jy nie deur die dorp mag ry nie. Die drywer het tussen sewe en tien kilometer per uur gery toe die trok omgeslaan het. As ‘n trok hoog gelaai is en só pad moet ry, sal hy vir seker omslaan al staan hy stil.”
“Oral is bordjies wat trokke verbied, maar alles wat jy koop is as gevolg van die trokke en hulle drywers wat gesorg het dat dit daar kom. Niemand kyk na die drywers soos in ander lande nie. Amerika het byvoorbeeld spesiale stopplekke en selfs winkels wat afslag gee vir die drywers.”
Mnr. Du Plooy sê die trok se skade is ongeveer R500 000 en die vrag R400 000.
Lees vorige berig hier:
(Nuusflits) Video: As dit lemoene reën, moet jy skep
Die bestuurder en sy hulpwerker het gelukkig net ‘n paar stampe en kneusplekke opgedoen.
Sommige inwoners het oranje gesien toe die lemoene deur omstanders gesteel is terwyl ander inwoners net rande gesien het.
Reeds van die vroeë oggendure af het verkeersbeamptes, polisie en die brandweer die lemoene probeer beskerm teen die hordes mense wat die lemoene wou vat.
Ná ure se wag, is daar uiteindelik toestemming gegee deur die versekeringsmaatskappy dat die aasvoëls nou maar die lemoene (dié paar wat nog daar gelê het) moet vat.
Taxi’s, trokke, motors, bakkies en trollies was van die vervoermiddels wat ingespan is om te skep terwyl dit lemoene reën.
Een ding is seker, daar sal vir tyd en wyl geen tekort aan vitamiene C in Middelburg wees nie en dit boonop net betyds vir die winter.
Lees ander stories hier:
