News

Video: Op die spoor van 1127 se geskiedenis

Deelnemers aan Saterdag se treinwedloop en hulle ondersteuners sal begroet word deur die pragtige lokomotief en wa voor Dros Restaurant.

Maar weet hulle watter ryk geskiedenis die 1127 lokomotief het? Julieo, ons dorp se eie lokomotief, het ’n ryk geskiedenis wat deur die jare selfs deur nasionale koerante gestoom het.

Uit ou berigte wat Johan Janse van Rensburg beskikbaar gestel het aan www.mobserver.co.za, word ’n mens herinner aan ’n verhaal wat eintlik in ’n boek tuishoort.

Op 21 Augustus 1984 is Klas 8A, 1127 amptelik staan gemaak op die klein spoortjie langs die Snow Cruywagen biblioteek.

Maar waar kom die trein vandaan en wat is die storie agter die storie van hierdie ou werkesel?

In Augustus 1984 skryf Julie van Rensburg, oud Middelburg Observer joernalis ’n berig vir SA Rail waarin sy vertel oor die spore wat ou ‘Eleven Twenty Seven’ agter gelaat het.

En uit haar storie en Johan se verhale oor die lokomotief, is hierdie geskiedenisstuk saamgestel….

1127 se geskiedenis:

Die lokomotief is in 1901 deur Nielsen Reid en Co en Sharp, Stewart en Co gebou vir die bedrag van £3865 (R7 720). Die lokomotief was een van 39 wat in daardie tyd gebou is.

Die trein is dadelik in gebruik geneem deur die IMR (Imperial Military Railways), aangesien die Anglo Boere Oorlog nog aan die gang was.

Na die oorlog is die treine oorgeplaas na die destydse Central South African Railways.

Volgens Julie se artikel is daar nie baie inligting beskikbaar oor ou 1127 nie, maar het die lokomotief beslis vir meer as 30 jaar werk gedoen op die lyne tussen Middelburg en Stoffberg.

Meer inligting oor 1127 is vanaf 1958 aangeteken en is die lokomotief na Uitenhage in 1959 vir restourasiewerk.

Haar volgende stop was Beaconsfield waar sy tussen dié dorp, Vryburg en Mafikeng diens gedoen het.

In 1972 “tree 1127 af” en word vir die Middelburg Munisipaliteit geskenk.

Probleme het ontstaan oor waar die historiese stomer haar laaste staanplek sou kry.

Die plan was aanvanklik om haar, haar naam is mos Julieo, by die stasie staan te maak vir toeriste, maar Middelburg was nie meer ’n hoofroete nie en toeriste sou nie spesiaal daar aandoen net vir ’n stroomtrein langs die spore nie.

Daar is uiteindelik besluit om die lokomotief langs die munisipale gebou te laat staan en dit is goedgekeur deur die Spoorweë.

1127 het op daardie stadium al vir jare op ’n buitespoor by die goedere-werf langs die spoorlyn gestaan.

Totdat alles gefinaliseer sou word, is besluit om die lokomotief tydelik oor te plaas na Witbank (nou eMalahleni).

Dis hier waar Julie die lokomotief die eerste keer in 1983 raakgesien het.

Op 21 Augustus 1984 is die loko staan gemaak langs die munispale geboue in Middelburg nadat hordes spoorwegwerkers ’n tydelike lyn gebou het vanaf die hooflyn tot by die gebou.

Julie, wat al lankal halsoorkop verlief was op die ou stoomenjin, het egter gesien hoe die elemente die trein verder verniel.

In 1985 pak sy ’n projek aan waar sy eiehandig die lokomotief afgeskuur en oorgeverf het. Middelburg Observer redakteur Tobie van den Bergh onthou hoe “sy wydsbeen naweek vir naweek oor die lokomotief gesit en haar afgeskuur het.”

Na Julie se harde werk, word 1127 gedoop as Julieo, (haar naam en die O vir Observer, omdat sy by die koerant gewerk het.)

Die oomblik toe Julie verhuis was Julieo se fut binne ’n paar jaar geblus en het die wind en weer die lokomotief in ’n bejammerenswaardige geroeste stuk seeroog langs die munisipaliteit geword.

Die munisipaliteit besluit om die lokomotief te laat opsny en dit vir skrootmetaal te verkoop.

Mnr. George Lowe steek egter ’n stokkie daarvoor en sê hy sal die trein in stand hou. Die trein word aan hom oorgeteken om te onderhou, maar etlike maande later sterf hy.

In 2009 doen me. Anna-Mart Ott (Kamer van Koophandel) ’n dringende beroep op die gemeenskap om in te gryp, aangesien die lokomotief geweldig verval het.

Mnr. Lowe se weduwee, Rina, het dadelik ingestem dat die lokomotief oorgeteken word aan die Kamer van Koophandel.

Me. Ott begin dadelik met onderhandelings dat die trein geskuif moet word en vra sy dat die trein op die oop spasie voor die kantore van die Inligtingsentrum (langs Dros) geskenk word. Buiten dat dit as baken by die ingang van die dorp gesien sou word, was dit langs die roete van die jaarlikse treinwedloop en was dit vir haar op die perfekte plek dat almal dit kon raaksien. Die aansoek is goedgekeur.

Op hierdie stadium het Johan Janse van Rensburg, en mnr. Marius Brits, bekende sakeman, aan boord gekom.

Hulle was in 2010 die projekleier toe die lokomotief met die hulp van verskeie kontrakteurs op 6 Oktober 2010 met ’n hyskraan geskuif is. Die skuiwingsproses het 12 ure geneem.

Dit het langer geneem as wat beplan is, aangesien die ou reus 61 ton weeg en haar wa ’n verdere 20 ton.

In die Observer van 8 Oktober 2010 word gemeld dat ’n dakkie gebou sou word en die trein tot sy volle glorie gerestoureer sal word. ’n Plan wat tot op hede nog net ’n byna onmoontlike droom gebly het.

Mnr. Janse van Rensburg sal egter nooit tou opgooi om ons lokomotief behoue te laat bly en haar te restoureer tot haar ou glorie nie.

• Hy het Woensdag vertel dat die lokomotief se lig eers ’n jaar of wat gelede weer teruggeplaas is. Hulle het destyds toe die trein geskuif is, gedink dat die lig gesteel is.

Tydens ’n skoolfunksie, waar mnr. Janse van Rensburg se dogter, Amoré en haar vriendin, Megan Lowe (mnr. George Lowe se kleindogter) moes wees, het hulle gesit en gesels. Mnr. Lowe se seun, Kai, het gesê dat hulle die lig afgehaal het toe sy pa nog die eienaar van die trein was, om seker te maak dit word nie gesteel nie. Mnr. Lowe het dadelik die lig vir mnr. Janse van Rensburg geskenk, wat dit teruggesit het waar dit hoort.

Sakelui wat op die lokomotiefprojek wil klim, kan mnr. Janse van Rensburg bel by 082 696 3884.

• Lees later hierdie week meer oor Julie wie se liefde vir lokomotiewe nie by Julieo geëindig het nie.

Back to top button