News

Vallei droogte knyp

Die jaar 2016 sal in argiewe onthou word as een van die ergste droogtes wat Suid-Afrika al ooit beleef het, met die aarde wat tot stof vertrap is en damvlakke wat nie styg nie, word die Vallei bedreig en staar waterbeperkings ons in die gesig.

AgriSA skat vanjaar se droogste as die ergste sedert 1992.

Die nuwe waterjaar het reeds in begin Mei aangebreek, en sê mnr. Johan van Stryp, Loksop Besproeiingsraad, dat 70% kwota water toegeken is aan die boere van die Vallei. “Verlede jaar se waterjaar wat vanaf 1 Mei 2015 tot 31 April 2016 gestrek het, het die boere 100% kwota water ontvang, maar is dit verminder na 70%. Dit wil sê, waar die boere gewoonlik 7 700 kubieke meter water per hektaar ontvang het, sal hulle slegs 5390 kubieke meter water per hektaar ontvang. Indien genoegsame reën die watervlak van Loskopdam laat styg, kan die kwota water aan boere herbereken word. Dit sal nie sommer gebeur dat die kwota water sal verlaag voor die nuwe waterjaar nie,” sê mnr. Van Stryp.

Loskopdam se watervlak is tans op 53,3%, waar dit verlede jaar hierdie tyd op 84,9% gestaan het.

Nie net is Loskopdam se watervlak uiters laag nie, maar is die watervlak van Flag Boshielo Dam (Arabiedam) kritiek en staan die watervlak tans op 23,6% waar die watervlak verlede jaar hierdie tyd op 73,1% gestaan het.

Volgens die Departement van Water en Sanitasie is die damstande van die damme in die omgewing as volg:

Bronkhorstspruitdam staan op 67,9%, Rust de Winterdam op 50,3%, Rhenosterkopdam op 19,8%, Buffelskloofdam op 32,3%, Ohrigstaddam op 4,60%, Kwenadam op 32,5%, Witklipdam op 36,4%, Injakadam op 56,5%, Blyderivierspoortdam op 55,8% en De Hoopdam op 85,7%. Die twee munisipale damme, Witbankdam staan op 67,6% en Middelburgdam staan op 41,5%.

Mnr. Kobus Pretorius, Departement van Water en Sanitasie, sê dat die volgende waterbeperkings reeds ingestel is: Loskopdam het 30% beperking op besproeiing, met geen beperkings op huishoudelik en industriële areas nie, Buffelskloofdam het 35% beperking op besproeiing en dus is hul kwota water 65%, Ohrigstaddam het 90% beperking op besproeiing en is hul kwota water slegs 10% en Rhenosterkopdam het reeds 40% beperking op besproeiing met 60% kwota water, daar is ook op huishoudelik en industrieel ‘n beperking van 20%.

“Die watervoorsiening vanuit Flag Boshielodam sal beperk word sodra die staatskoerant gepubliseer is. Besproeiing sal beperk word met 100%, dit wil sê 0% kwota water sal beskikbaar wees vir boere, en huishoudelike watervoorsiening sal met 30% beperk word, voorsien 70% van toegekende volume, en industriële gebruik soos die myne sal beperk word met 55%. Daar was verskeie vals berigte versprei dat die uitlaatwerke by Flag Boshielodam nie in ‘n operasionele toestand is nie, en dat kleppe nie toegemaak kan word nie. Dit is egter onwaar. Die Departement voorsien water aan Lepelle Northern Waterraad wat ‘n groot suiweringswerke het by die dam asook een by Olifantspoort ongeveer 50km stroomaf,” sê mnr. Pretorius.

Die suiweringswerke by Olifantspoort voorsien water aan Lebowakgomo en Polokwane deur die Olifants-Sandrivier oordragskema. Stroomaf van Olifantspoort is die onttrekkingswerke van Lebalelo Watergebruikersvereniging wat water voorsien aan die myne.

Mnr. Pretorius sê die lae damstand van Flag Boshielodam is as gevolg van die watergebruik uit die dam maar ook as gevolg van lae reënval. “Die Rust de Winterdam in Elandsrivier moet eers oorloop voordat Rhenosterkopdam water kry, eers wanneer Rhenosterkopdam oorloop sal die Elandsrivier die Flag Boshielodam voed. In die Olifantsrivier moet Loskopdam eers oorloop voordat die Flag Boshielodam sal water kry. Die ander riviere stroomaf van Loskopdam het nie ‘n noemenswaardige bydrae gehad hierdie afgelope reënseisoen nie,” sê mnr. Pretorius.

Mnr. Pretorius sê dat wanneer waterbeperkings ingestel word, word besproeiing eerste beperk, daarna huishoudelike en industriële gebruik en strategiese gebruik word nie beperk nie soos byvoorbeeld watervoorsiening aan Eskom.

Volgens Matlala Aloe Park, wat teenaan die Flag Boshielodam geleë is, is besigheid stil weens die watervlak wat sò laag is, en is daar geen hoop om met ‘n boot op die water uit te gaan nie. Hulle sê dat die enigste bote wat nog gebruik kan word in die min water is ‘n klein vier-by-vier boot.

Me. Laurel Ras, wie ‘n spasie huur by Matlala Aloe Park vir staanplek vir hul vlot, sê dat hul ten minste een keer elke maand na die Flag Boshielodam gaan om met die vlot op die water te ry. “Ons het egter in Julie vir die laaste keer met die vlot probeer uitgaan op die water, maar moes na ongeveer 10 minute op die water terugkeer weens die boot wat begin vassteek het omdat die water in die dam so min is,” sê me. Ras.

Die Department van Landbou het vroeg in Maart vanjaar gesê dat die Suid-Afrikaanse landboubedryf ongeveer R16 miljard verloor weens die droogte.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Janine Saayman

Janine has been working as a journalist/photographer since 2014 at the Daller in Groblersdal. She was awarded the O.H. Frewin Upcoming Journalist of the Year in her first year as a journalist. Janine has a passion for photography, writing, being creative and doing things to the best of her ability.
Back to top button