Nog ’n lekker treinverhaal
Johan en Julie Janse van Rensburg deel nie net ’n van nie, maar ook ’n liefde vir ons dorp se eie lokomotief en ander stoomtreine.
Die twee is glad nie familie nie, maar beide het ’n noue verbintenis met die lokomotief voor Dros. Johan was betrokke by die skuif van die trein, asook die instandhouding die afgelope paar jare. Hy het juis pas nuwe plate laat opsit.
Julie het jare gelede die loko in stand gehou toe hy nog by die munisipaliteit gestaan het. Sy was destyds ’n joernalis by die Middelburg Observer en het naweke wydsbeen oor die loko gesit om hom af te skuur en te verf.
Hy is dan ook sommer na haar vernoem, as Julieo (haar naam en die eerste letter van die Observer).
Soos Johan, kom haar liefde vir treine, veral stoomtreine, egter al jare.
Verlede week het www.mobserver.co.za vertel oor die geskiedenis van ons lokomotief. Dié week vertel ons Julie se treinverhale.
Sy onthou dat sy in 1984 die 15CA, nommer 2056, daagliks in Witbank (nou eMalahleni) gaan skoonmaak en verf het vir die Selati Safari.
“Ek het ook die dag met haar proeflopie Waterval Boven toe en terug ’n foto van haar geskiet terwyl sy teen sononder terugry Witbank toe. Dit het my getref dat hierdie pragtige ou stoomreuse ook in die sononder van hulle lewens was.”
Sy vertel opgewonde dat die 2056 nie as skroot opgesny is nie, maar nou in die besit is van die Germiston bewaringsgroep, Reefsteamers.
Toe hulle haar destyds gekry het, het hulle haar na Dorothy herdoop. Sy is nou onderdak, terwyl die Reafsteamers-span haar heeltemal versien met nuwe ketelpype en selfs wiele wat weer gedraai word.
“Een vrou het R25 000 geskenk as bydrae tot haar herstelkoste. Dus het die ou dame die voorreg om haar ’n nuwe naam te gee. Soos ek verstaan gaan dit Inge wees. Nie dat dit my pla nie. Ek is maar net té dankbaar dat my tweede naamgenoot nog lank gaan leef, instede van opgesny te word en as skroot aan Sjina te verkoop!”
Julie se eerste naamgenoot onder in Kwazulu Natal, Kl. 14(A)R 1576 was ook vir skroot bestem, totdat Julie haar in Pietermaritzburg destyds gesien en ’n brief aan minister van vervoer Hendrik Schoeman gerig het. Daarin het sy gevra dat die loko aan hul Umgeni-groep geskenk word. Julie het al ’n hele lêer, getiteld “My steam stories” saamgestel. Die eerste vyf handel juis oor hierdie trein in Natal soos sy haar weer vir die eerste keer in ongeveer 30 jaar in die skrootwerf by Pietermaritzburg gesien het.
Deur middel van foto’s wys sy waar die trein weer herstel is en deel was van hul jaarlikse “Hawe Wandelaar” toere van Punt na Wests. “Ons het elke Paasweek drie ritte per dag aangebied en glo my, die mense was mal daaroor. Daar is egter besluit dit moet end kry, want ons is ’n veiligheidsrisiko! Al die jare wat ons hierdie Hawe Wandelaar aangebied het, het daar nie eers ’n kat of hond onder die treinwiele beland nie en nie eens ’n klapper is afgeskiet nie, wat staan nog ’n bom!”
Julie was baie verras met die berigte in die Middelburg Observer en op www.mobserver.co.za.
“Ek het alles afgelaai en miskien kan my agterkleinkinders (agt tot dusver) eendag lees hoe hulle mal oumagrootjie op stoomlokomotiewe versot was.”

