Johnny Bosman was ’n legende op Middelburg, maar nou is Johnny weg.
Johnny het gereeld verdwyn, maar na ’n paar maande weer teruggekeer na die dorp.
Hy is lid van ’n welgestelde en gesiene familie van Middelburg en sy pa was ’n provinsiale skeidsregter.
Na ’n liefdesteleurstelling is Johnny strate toe en behalwe vir twee maande, is hy sedertdien op die langpad.
Johnny het gereeld by www.mobserver.co.za opgedaag, eenkeer sonder ’n draad klere aan. “Ek is beroof, hulle het alles gevat,” het Johnny gekla.
Daar was ’n keer toe hy geld gebedel het vir skoene, “want sy skoene is die nag gesteel”. Na ’n geldjie is Johnny by die voordeur uit, maar ’n personeellid van www.mobserver.co.za het gesien hoe hy doodgelukkig die skoene onder ’n kar uithaal en al fluitende wegstap.
Een Nuwejaarsdiens het Johnny en sy hond, Jonathan, by die Kruisgenerasie gemeente opgedaag. Toe die nagmaalbeker omgestuur word, het hy ’n groot teug gevat.
Nadat hy vir twee maande behandeling ontvang het in ’n rehabilitasiesentrum het hy weer die strate ingevaar.
Toe hy gevra is waarom hy terug is op straat met sy geliefde bottel Zorba as metgesel, het hy geantwoord: “Ek is maar net ’n boemelaar”.
Maar nou is Johnny al vir drie jaar weg, skoonveld.
“Waar is Johnny?”, vra die dorp.
Hy is al in Richardsbaai gesien en ’n rugsak met sy Bybel is by die Swaziland grens gekry.
Is Johnny dood?
Lewe Johnny?
Kan hy dalk nie onthou nie?
Sy broer in Pretoria, Johan, vra dat hy by 082 320 5475 gebel word of maak kontak met Daleen Naude by 013 2431434 of daleen@mobserver.co.za.
