Burgemeester voeg stem by beswaardes
Middelburg hou asem op met die verskyning van die sogemaande doodskistwee in die landdroshof Donderdag.
Theo Jackson en Willem Oosthuyzen, wat ’n man in ’n doodskis gedruk en daarna gedreig het om hom aan die brand te steek, gaan om borgtog aansoek doen.
Tydens hulle vorige verskyning het Middelburg die politieke sirkus in sy volheid gesien met die EFF, ANC en DA wat almal politieke punte probeer behaal het.
Paaie is afgesper en duisende dansende mense met plakkate het voor die hofgebou op en af paradeer.
Beide die EFF en ANC het hulle partybusse langs die hof staangemaak.
Tot dusver is daar nog geen aanduiding dat die dorp weer ontwrig gaan word nie.
Intussen het verskeie gemeenskapsleiers op Middelburg hulle sterk uitgespreek nadat die dorp Dinsdagaand op eNCA as ’n rassistiese dorp uitgebeeld is.
Burgemeester Mike Masina was een van die inwoners wat beswaar gemaak het teen die tipering van Middelburg, waar rasseharmonie hoogty vier en rdl. Masina geliefd is onder alle inwoners.
Toe daar twee jaar gelede gestem is vir Dorp van die Jaar het mense oor die kleurgrens heen soos een man vir Middelburg gestem, wat uiteindelik aangewys is as Dorp van die Jaar.
Daar is ’n al groter gevoel dat inwoners soos een man moet opruk en hulle stemme laat hoor dat Middelburg nie ’n rassistiese dorp is nie.
