Loutjie en Gerda se ‘lang totsiens’ is verby
Loutjie Maritz vertel van die hartseer vyf jaar waarin demensie sy vrou, Gerda, stelselmatig van hom weggeneem het.
Loutjie Maritz (71) was ’n klipharde agsteman wat 17 wedstryde vir Suidoos-Transvaal se rugbyspan gespeel het. Die afgelope vyf jaar was egter moeiliker as enige wedstryd waarin hy ooit gespeel het. Sy vrou, Gerda, is vyf jaar gelede met demensie gediagnoseer.
Vir die eerste twee jaar het hy haar self versorg, waarna sy die laaste drie jaar van haar lewe in die SAVF Tehuis vir Bejaardes op Middelburg deurgebring het. Gerda, wat op 30 September haar 70ste verjaardag gevier het, is op 14 Oktober oorlede.
Haar huldigingsdiens word op 24 Oktober om 11:00 deur ds. Werner Potgieter van Goodnews Ministries gelei. Die diens vind by die kerk op plot 79, Kromdraai, eMalahleni, plaas. Met die doel om bewustheid oor demensie te kweek, het Loutjie vertel hoe die siekte hul lewe stil-stil binnegesypel het.

“Dit het alles begin met klein foutjies: sleutels wat wegraak, afsprake wat vergeet word, name en mense wat nie meer onthou word nie, kos sonder sout en resepte wat nie volledig gevolg word nie,” vertel Loutjie. ’n Besoek aan ’n neuroloog het volgens Loutjie aan die lig gebring dat daar verkalkte are was. Aanvanklik het hulle geglo hulle sou die siekte kon oorkom en bestuur.
Enkele maande later moes Loutjie die huishouding oorneem. Gerda het geleidelik haar balans verloor en gereeld geval. Hy moes haar help stort en aantrek, haar hare kam en haar grimering aansit.
“Die kleinkinders het gesukkel om te aanvaar dat daar nie meer ná skool sop of pannekoeke sou wees nie,” sê hy. Later het die dokter ’n versorgingsoord aanbeveel, waarna Gerda ’n inwoner van die SAVF-tehuis se siekeboeg op Middelburg geword het.

Loutjie het haar aanvanklik daagliks vir ’n stappie om die perseel geneem. Sy het met ander pasiënte gesels en rolstoele rondgestoot. Mettertyd het haar toestand egter versleg. “Die stappies het minder geword, haar woordeskat het afgeneem en sy het nie meer vriende en familie herken nie. Kommunikasie het tot geluide beperk geraak. Haar liggaam het ingegee en sy kon nie meer staan of loop nie,” vertel hy.
“Die vrae het al meer geword, terwyl my begrip van die siekte al minder geword het. Die liefdevolle etevoeding het plek gemaak vir ’n gevoel van bekommernis.” Loutjie het probeer om sy ervarings en gevoelens op papier vas te vang. “Dit was verskriklik seer om jou so te sien wegkwyn. Maar as daar een goeie ding hieruit gekom het, is dit dat ek God tydens jou siektereis leer ken het.
“Die engele onder die SAVF-personeel het haar bygestaan. Die pad sou veel moeiliker gewees het sonder hulle.”
Alzheimer se siekte en demensie word dikwels as “die lang totsiens” beskryf. September is Wêreld-Alzheimermaand. Die SAVF Tehuis vir Bejaardes het verlede jaar ’n spesiale geleentheid aangebied waartydens Loutjie ook die geleentheid gekry het om ’n vergeet-my-nie-blommetjie te plant.