News

Kleine Jannes, ’n vegtertjie met hartoperasie wat wag

Op 17 maande lyk Jannes Prinsloo soos ’n drie maande oue babatjie en wag ’n groot hartoperasie in Januarie, maar niks kry dié bogemiddelde slim woelwater onder nie.

Jannes Marius Prinsloo was in sy lewe amper meer in die hospitaal as by die huis.

Sy ouers, Lu-Mari en Tobie, stap sedert sy geboorte (12 Julie 2015) in die Middelburg Hospitaal, ’n harde pad saam met hul vriendelike seuntjie. Hulle sê hulle doen dit egter met die grootste liefde.

Die knapie het met sy geboorte al blou geword en moes dadelik op suurstof geplaas word. Sy duimpies het ook abnormaal gelyk.

“Sy linkerduim was net met ’n velletjie vas aan sy handjie en sy regterduim het half afwaarts gegroei.

“Die susters het aan ons genoem al wat hulle kan doen is om die linker duimpie te bind sodat hy afval. Ons het daarop geantwoord dat hulle sy duim moet los, ons wou eers kyk of ’n privaat dokter ons nie dalk kon help nie,” vertel me. Prinsloo.

Vele skokke het nog op hulle gewag.

Jannes se anus was te klein (so groot soos ’n vuurhoutjiekop) en is dit in November 2015 tydens ’n noodoperasie herstel.

Die dokters wat met hom gewerk het by die Steve Biko Hospitaal het Jannes se hande en anus gesien en hulle dadelik gestuur vir verdere toetse.

’n Sonar het gewys dat Jannes twee gate in sy hart het.

“Ons was op daardie stadium hartseer, bang en kwaad, want ’n ander dokter het gesê Jannes se hart is 100%!”

Hy is dadelik op hartmedikasie gesit en het verskeie besoeke aan chirurge en kardioloë gevolg.

Hulle het ook ’n ortopeed gaan sien oor hul seuntjie se duime.

Dit was nie goeie nuus nie, want daar kon niks gedoen word aan sy linkerduim nie, omdat daar nie been, weefsel of spiere was nie.

“Ons het hulle gevra of hulle maar die linkerduimpie vir ons kan afsit, want hy het begin trek aan sy duimpie en ons was bang hy maak homself seer.”

Die duim is in April 2016 afgesit. “Dit was ’n baie vinnige teatersessie, want dit was eintlik net die velletjie sny en twee steke insit. Hy is so vier ure nadat hy uit die teater uit gekom het ontslaan.”

Op sy eerste verjaardag was hulle alweer oppad hospitaal toe. Dié keer moes ’n kardiologiese katerisasie gedoen word.

Hy het egter siek geword en moes dit uitgestel word omdat hy ’n erge bakteriese infeksie in sy longe gekry het.

Tydens die katerisasie in Augustus 2016 het die spesialiste gevind dat die gate in sy hart groter is as wat hulle gedink het en dat hy ’n hartoperasie sal moet ondergaan.

Jannes sal op 20 Januarie 2017 opgeneem word, waarna die hartoperasie op 24 Januarie sal volg.

In April 2017 begin hulle met voorbereiding vir sy handoperasies.

Die plan is dat sy linkerhand se wysvinger ’n duim gaan word. Met die operasie sny hulle tussen die wysvinger en middelvinger af tot by die gewrig, waarna hulle die wysvinger draai om as duim te dien.

Met sy regterhand moet ’n klein beeninplanting gedoen word.

’n Genetikus het intussen bloedtoetse gedoen vir onder andere VACTERL assosiasie. Die mediese terme daarvoor is:

V – Vertebral abnormalities

A – Anal atresia

C – Cardiac defects

T – Tracheoesophageal fistula

E – Esophageal atresia

R – Renal & Radial Abnormalities

L – Limb Defects

Van die bogenoemde het Jannes VACRL. As ’n persoon net met drie daarvan gediagnoseer word, klassifiseer hulle dit met VACTERL Assosiasie.

Weens al sy mediese probleme dra Jannes babaklere van 0-3 maande, maar, vertel sy ma trots, is daar darem al 3-6 maande kleertjies wat vir hom pas.

“Alhoewel Jannes nog baie klein is en eintlik soos ’n baba lyk, is daar absoluut niks met sy verstand verkeerd nie. Hy is inteendeel baie slimmer as meeste ander kinders van sy ouderdom!”

• Die baie pendel na Pretoria en terug, asook besoeke aan spesialiste, het die gesin finansieël hard getref.
Persone wat hulle graat wil ondersteun, kan me. Prinsloo bel by 074 891 3570.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button