Beskerm viervoetiges teen vuurwerke
Waar dit kom by vuurwerke en ons viervoetiges sal die Dierebeskermingsvereniging géén genade hê nie!
Senior inspekteur Petro Oberholzer (Middelburg DBV) sê prontuit: “moenie vuurwerke gebruik nie!”
Sy hoop om vanjaar weer die polisie se samewerking te kry om mense vas te skroef wat vuurwerke skiet oor nuwejaar.
Snr-inp. Oberholzer is veral bekommerd oor troeteldiere wat geweldig bang is vir vuurwerke.
“As jy ‘n troeteldier-eienaar is, bly by jou dier. As jy moet uitgaan, maak seker jou hond of kat is veilig toe. Speel musiek in die agtergrond en kry kalmeermiddels by ‘n veearts.”
Sy sê dit is uiters belangrik om voorsorg te tref vir jou diere.
“Dit is nou één ding wat ek nie verstaan nie. Almal weet dat vuurwerke geskiet gaan word, maar almal hou heerlik partytjie terwyl die diere uitkom en die DBV die hele nag moet rondry om diere te help!”
Sy doen ‘n dringende beroep op die gemeenskap “om ons te help dat ons die diere kan help.”
• Dit is onwettig om vuurwerke te skiet, tensy daar toestemming by die brandweerhoof gekry is.
