Bees vlug voor slagters – Polisie skiet sewe skote
Chaos het Saterdagoggend in Gilfillanstraat uitgebreek toe 'n bees, wat tydens 'n tradisionele ritueel geslag moes word, losgebreek, in die strate afgevlug en teen palissade heinings vasgehardloop het.
“As daardie polisieman nie die bees geskiet het nie, kon die dier my doodgemaak het,” het senior inspekteur Petro Oberholzer Maandagoggend ontsteld gesê.
Omdat die koei verwilderd en beseer was, kon niemand naby haar kom nie en ‘n polisieman moes later verskeie skote afvuur, voordat die bees gevrek het.
Inwoners van Gilfillan- en Meyerstraat (Suid) was Saterdagoggend vroeg al omgekrap toe hulle besef dat ‘n bees in dié erf in Gilfillanstraat gereed gemaak is om geslag te word.
Mnr. Basie Lugtenborg sê die drama het omstreeks 10:00 begin toe die bees losgebreek en oor die hek gespring het.
“Almal wat gaste was by die troue is agterna. Mans, vroue én kinders. ‘n Klomp het die bees met stokke agterna gesit en munisipale werkers, wat in die omgewing was, het agterna gehol met hul grawe. Dit was omtrent ‘n sirkus in die straat!”
Mnr. Lugtenborg kon duidelik sien dat die bees uiters verwilderd was en die polisie het opgedaag.
Nog ‘n inwoner van die straat, mnr. Coen van der Merwe, het die Dierebeskermingsvereniging gebel en snr-insp. Oberholzer het met haar skokgeweer na die toneel gery.
“Ek kon egter nie naby die bees kom nie. Die koei het teen die palissade heining vasgehardloop en was beseer. Haar horings het my met millimeters gemis. Daardie arme dier was so gestres.”
Verskeie mense moes uit haar pad spring en daar is besluit om die bees te skiet.
Mnr. Van den Berg, sê dat hy “beslis ‘n lansie vir die polisie moet breek. Ja, daar is sewe skote geskiet, maar die polisieman het nooit in enige mens se rigting geskiet nie. Hy het nie gevaarlik opgetree nie.”
Na wat verneem word, het ‘n polisieman met ‘n R5 aanvalsgeweer op die bees geskiet.
“Die polisieman was egter te naby aan die bees dat die koeëls die regte plofkrag moes hê,” verduidelik snr-insp. Oberholzer.
Na die tweede skoot in die kop, het die bees gaan lê.
“Die bees was egter nie dood nie en die mense het haar klaar met toue begin terugsleep na die huis toe. Ek het die polisieman gevra om haar nog ‘n skoot in die kop te skiet, waarop die bees toe eers dood is.”
Snr-insp. Oberholzer het ‘n waarskuwing aan die eienaar van die bees gegee om hom daarop te wys dat dierewreedheid deel van die gebeure was, omdat die dier onder stres geplaas is omdat sy so gejaag is. Sy het aangedui dat die saak ondersoek word.
• Wanneer mense diere vir tradisionele redes wil slag, moet hulle die DBV in kennis stel. Daar sal dan toegesien word dat die dier so menslik moontlik geslag word.
