Ons eie Olivyf
Ná die Springbokke se Jaco van der Westhuyzen en die Olimpiese swemmer, Karin Buys, het die Vallei nóg 'n nasionale sportster opgelewer!
Duanne Olivier het verlede week sy buiging vir die Proteas in die derde toets teen Sri Lanka op die Wanderers gemaak ná ‘n rits goeie vertonings vir die Knights in die plaaslike meerdaagse reeks.
Heranga Herath was die 24-jarige Olivier se eerste internasionale slagoffer, toe hy ‘n opslagbal na Stephen Cook op regby afgeweer het. Olivier het uiteindelik vyf Sri Lanka-kolwers na die kleedkamer teruggestuur, wat hom terstond die bynaam “Olivyf” besorg het.
Maar min mense weet egter dat hy op Groblersdal gebore is.
Sy pa en ma, Francois en Elmarie Olivier, het vanaf November 1990 in die Dal gewoon en beide het by die dorp se Eerste Nasionale Bank gewerk. Olivier is op 9 Mei 1992 in Groblersdal Hospitaal gebore.
Sy pa vertel egter dat die gesin in Augustus 1992 – toe Olivier skaars drie maande oud was – na Pretoria getrek het toe sy werk hom verplaas het. Olivier senior werk steeds by ENB en is die bestuurder van verskeie takke, waaronder die een in Groblersdal. Hy besoek dié tak nog gereeld.
Olivier het sy skoolloopbaan by Hoërskool Centurion voltooi en het aanvanklik op rugby en atletiek gekonsentreer, maar ‘n besering in graad 10 het gesorg dat hy uitsluitlik op krieket kon fokus.
Die bekende skeidsregter, Johan Cloete, was sy afrigter en gedurende die Khaya Majola Krieketweek in 2010 het hy in twee wedstryde vir die Skooltitans agt paaltjies laat kantel teen ‘n gemiddeld van 25.25.
Sy blitsaflewerings het die oog van die Vrystaatse keurders gevang en hulle het hom ‘n kontrak aangebied om daar krieket te speel en te studeer.
Die jong Olivier het destyds met sy graad in Rekeningkunde begin, maar weens sy krieketverpligtinge het hy laterhand na ‘n korrespondensiekursus in Sakebestuur oorgeskakel.
Sy Proteadrome is bewaarheid toe hy op 5 Januarie ‘n oproep van die nasionale keurderbaas, Linda Zondi, ontvang het.
Olivier het vir Kyle Abbott – wat ‘n Kolpak-kontrak met Hampshire onderteken het – vervang.
“Dit was vir my ‘n ongelooflike ervaring en dit het so vinnig gebeur! Die ouens het my baie welkom laat voel en dit was asof ek deel was van ‘n familie. Dit is beslis ‘n ervaring wat ek nooit sal vergeet nie,” het Olivier aan die Daller gesê.
Natuurlik het hy ook raad aan die Vallei se krieketspelers wat drome koester om eendag professioneel krieket te speel.
“Werk altyd hard, gee 100% en geniet net elke liewe oomblik.”
Die volgende stap vir “Olivyf” is natuurlik “Olitien”. En die Dal hou duimvas dat hy sommer binnekort sy eerste tienpaaltjie-oes in ‘n toetswedstryd sal neem.
