News

Skoolhoof as seekat geteken

Intel: Huis Grundlingh. Graad 1 - 1996. Jurick, Oktober, Seetoneel. Agent: Me. Hannetjie van den Berg, opsigter. Missie: Vind kunstenaar, twee dekades later.

Resultaat: Suksesvol! Staan af.

Daar’s geen Mission Impossible vir Huis Grundlingh opsigter, me. Hannetjie van den Berg nie.

Soos Tom Cruise, laat sy haar nie onderkry deur duisende seemyle tussen haar en haar teiken nie.

Die raaisel na Jurick Wessels is eindelaaste in ‘n haarsalon opgelos.

Die soektog na die man wat 20-jaar gelede sy paddabeentjies by Laerskool Middelburg geslyp het, is Vrydag afgesluit.

Sy indrukwekkende skildery, in Graad 1 geskilder, en wat jare in die gange van Huis Grundlingh gepryk het, gaan binnekort na Bahrain.

Die skildery is uit die ingangsportaal van die koshuis verwyder, en deur me. Van den Berg in ‘n asblik gevind.

Sy kon dit nie oor haar hart kry om die geraamde meesterstukkie ashoop toe te stuur nie.

“Ek glo dit sal vir Jurick, of sy ouers, ‘n welkome geskenk uit vervloë dae wees,” het sy aan die Middelburg Observer gesê. ‘n Dag daarna, is hy opgespoor.

Talent het Jurick beslis gehad. Sy kleurgebruik in die seetoneel, skep diep kontraste, wat asemrowende twee dimensionele elemente plek-plek uitlig.

Sy komposisie is ook goed deurdink en skep ‘n realistiese seebeeld wat die kyker bodem toe meesleur.

Die skilder het die beskikbare oppervlak so kundig gebruik, dat van die beelde as’t ware van die papier af vloei en die illusie van tasbare beweging skep.

Die enigste inligting wat die identiteit van huis Grundlingh se eie Gauguin peilbaar gemaak het, was sy naam

“Jurick” onder aan geskilder, met die datum “Okt” en verwysing na Jurick se intreedatum “Graad 1, 1996”.

“Iemand het vir my gesê dat Jurick se ma jare terug ‘n haarkapster in die dorp was, en my soektog het my gelei na die About You haarsalon by Oaks Sentrum, waar saloneienaar, me. Tanya Coetzee, me. Van den Berg die kloutjie by die oor help sit het.

Me. Coetzee het jare terug saam met Jurick se ma, Ronel, by Just Imagine Haarsalon in die Sanlamsentrum gewerk.

Ronel is ook intussen sak en pak na Bahrain, waar Jurick en die liefde van sy lewe, Koeleen, nes geskrop het.

Jurick Wessels en sy vrou Koeleen.
Jurick Wessels en sy vrou Koeleen.

“Vriendinne van Ronel gaan gereeld vir haar in Bahrain kuier, en ons is besig om te reël dat die kunswerk saam met hulle gaan,” het me. Schoeman Woensdag gesê.

Die Middelburg Observer het Jurick via Facebook opgespoor, en hy was uit die veld geslaan met die vonds.

• Gauguin was ‘n Franse skilder wat kunsliefhebbers verstom het met die wyse waarop hy kleur gebruik het.
Mnr. Gert van Zyl:

Mnr. Van Zyl was verstom toe hy Donderdagoggend van die skildery hoor. “Dit is so mooi storie,” het hy gesê.
Toffie, soos hy in sy jare as hoof bekend was omdat hy altyd lekkergoed aan die kinders uitgedeel het, het versoek dat die skildery na Jurick gestuur word.

Back to top button