News

Heroïen hou hulle op straat

Middelburg se strate is vol jongmense wat doelloos ronddwaal.

Hulle smelt gewoonlik goed in saam met die omgewing, maar as jy in die middedorp vir ‘n oomblik stil staan en om jou rond kyk, is die kanse goed dat jy iemand verby jou sal sien sluip.

Die Middelburg Observer het die strate ingevaar in ‘n poging om met van die hawelose jongmense te praat. Ons het twee jong mans naby McDonald’s raakgeloop. Hulle was bereid om te praat, op voorwaarde dat ons nie name noem nie.

Pieter (skuilnaam) is 30 jaar oud. Hy is in Middelburg gebore maar het vir lank die strate van Potchefstroom sy tuiste genoem.

“As jy dink Middelburg is erg, moet jy Potch sien! Daar gaan dit baie rof,” sê hy.

Hy is terug in Middelburg om sy ma te help nadat sy sussie, wat 24 was, in Desember oorlede is.

“Sy was meer een vir uppers, acid, Cat, daai tipe goed. Miskien het jy haar geken? Sy was baie bekend. So langerige hot chick,” vertel hy van haar.

“Ek probeer dinge met my ma regmaak. Dis hoekom ek hier is,” verduidelik hy sy terugkeer na Middelburg.

As jy vra wat jongmense op straat laat beland antwoord Pieter en sy vriend Jack (ook ‘n skuilnaam) amper saam: “Dwelms”.

“Hier is niks interessant om te doen nie. As jy nie drink nie, rook jy dagga, as jy nie dagga rook nie, doen jy drugs,” sê Jack.

Hy het groot geword in Middelburg. Sy laaste vaste adres was Hope City. Vir die afgelope vyf jaar bly hy op straat.

Jack vertel dat hy tot Graad 10 by Hoërskool Middelburg gevorder het voordat dwelmverslawing sy skoolloopbaan in die wiele gery het. Hoe het hy begin dwelms gebruik? Deur pêlle, antwoord hy.

Die twee vriende sê dat hulle bedags bedel en loswerkies doen om geld te kry vir dwelms.

“As jy klere kry verkoop jy dit. Jy sal tot jou ma verkoop vir R40,” merk Jack droog op.

Hulle is dit eens dat die meeste jongmense op straat in Middelburg heroïen gebruik. Cat is heeltemal te duur meen hulle. As jy dit kan bekostig kan jy ook ‘n dak oor jou kop bekostig.

“Cat is ‘n joke. Ek sal vir iemand lag as hy vir my sê hy is op straat oor Cat. Cat het nie dieselfde plak as heroin nie.”

Jack sê dat hy vyf ander jong mans ken wat soos hy, ook op straat is. Hulle slaap op ‘n veilige plek onderdak. Hulle het vir die Middelburg Observer vertel waar dit is, maar versoek dat dit nie gepubliseer word nie, omdat hulle bang is iemand kom verjaag hulle.

Bedags gaan elkeen sy gang, partymaal loop hulle twee-twee saam. Maar snags kom hulle om veiligheidsredes bymekaar.

“Jy moenie alleen buite slaap nie. Hier is baie nyaope boys. Hulle is gevaarlik,” sê Jack.

Oor hoe die dwelmprobleem bekamp kan word, is hulle baie pessimisties.

“As jy een dealer arresteer is daar net ‘n ander een wat sy plek vat!

“Ek het al probeer om vir die polisie mense uit te wys. Ek kan so baie vir hulle uitwys maar hulle soek altyd die groter ouens. En die kleiner dealers soek iets by jou in ruil vir inligting. Dis moeilik,” sê Pieter.

Hy sê dat om toegesluit te wees ook nie veel help nie.

“Jy kan makliker in die tronk drugs kry as op straat. Maar dit is eintlik nooit ‘n probleem om die goed in die hande te kry nie, of jy nou binne of buite is,” voeg hy by.

‘n Jong man wat homself voorstel as Gerhard, kom by die Middelburg Observer kantore aan terwyl joernaliste op straat aan die storie werk. Hy leen R50 by iemand in die kantoor om in Groblersdal uit te kom sodat hy kan werk soek. Hy vertel dat hy sy dwelms by Iraq Taxistaanplek koop. By ‘n “vet Suid-Afrikaner” wie se naam Lucky is.

Die joernaliste uit op die storie merk hom op in Bhimy Damanestraat. Hy stap soos ‘n man met ‘n missie. Later kom hy by die stegie, wat Iraq taxistaanplek met Walter Sisulustraat verbind, uitgestap. Die persoon by die kantoor wat vir hom die geld geleen het, bevestig: “Dis dieselfde Gerhard!”

Na die onderhoud met Pieter en Jack, vra een van hulle vir ‘n pen en papier. Hy skryf die volgende: “Enige verslaafde wat bereid is om te verander, daar is ware hulp deur liefde en ons Hemelse Vader… Winnie du Preez is ons oplossing. ‘n Opregte kind van God wat die wil van haar Vader uitleef.”

•Winnie is verlede jaar deur die polisie gearresteer op dwelmverwante klagtes. Dit is intussen verander na klagtes onder die medisynewet.

•Lees ook die weeklikse kommentaar op bladsy 15 van vandag se uitgawe.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button