Loop lig vir ongeregistreerde insleepdienste
Jy sit in jou motor by ’n rooi verkeerslig. Dit reën. Daar is skielik ’n harde slag jou kop tref die stuurwiel. Jy klim uit en sien dat iemand in jou vasgery het. Jou motor se hele agterwiel is ingebuig, jy sal nie vandag verder kan ry nie. Jou kop pyn en jy is sopnat.

’n Insleepvoertuig met oranje ligte kom op die toneel aan, dan die verkeerskonstabels, die ambulansmanne en die polisie.
’n Paramedikus kyk na die knop op jou voorkop en raai aan dat jy liefs vir waarneming hospitaal toe moet gaan. Daar is aanhoudende vrae, en mense in uniform wat vorms invul. Dit voel of jy jou naam, van en telefoonnommer oor en oor herhaal.
Iemand het jou lisensie gevat. Jy weet nie waar jou beursie is nie.
Die man van die insleepdienste sê hy sal jou kar insleep waar jy dit weer kan kry. Die pad moet oop want op die oomblik blok jou voertuig verkeersvloei. Die prys klink nie te sleg nie. Jy teken ’n vorm, kry sy nommer en word in die ambulans ingehelp.
Twee dae later kry jy ’n onaangename verrassing. Die man wat jou kar ingesleep het, is nie by jou versekering geaffilieer nie so hulle weier om te betaal.
Die insleepman soek R5 000 vir die sleep en R600 vir die twee dae wat jou motor op sy werf gestoor is. Jou kar staan sommer langs sy huis.
Na die rowwe Kersseisoen het jy nie soveel ekstra geld nie. Die man weier om jou kar vir jou te gee voordat jy betaal.
Vir elke dag wat hy langer daar staan, word daar R300 by die rekening gevoeg. Jy is magteloos want hy sit met ’n papier met jou handtekening op waar jy toestemming gee.
Ettienne Pel, nasionale voorsitter van UTASA, raai verbruikers aan om kriminele sake van bedrog en afpersing by die polisie te open as hulle met buitengewone hoë tariewe belas word, waartoe hulle nie ingestem het nie, of as hulle voel dat hulle mislei is.
Hy sê dat verbruikers wat polisie toe gegaan het en aangeraai is dat dit ’n siviele aangeleentheid is, UTASA vir bystand moet kontak.
Mnr. Pel het die volgende riglyne sodat verbruikers hulself kan beskerm:
• Insleepvoertuie moet duidelik gemerk wees. Die handelsmerke op voertuie en enige papierwerk moet ooreenstem.
• Enige kostes, wat ’n insleepfooi asook moontlike administrasie, stoor en verhalingsfooi kan insluit, moet duidelik met die verbruiker bespreek word.
• Die ooreengekomde bedrag moet duidelik aan die voorkant van die dokument aangebring word. Mnr. Pel sê dat verbruikers nie vorms moet teken as die bedrag nie daarop voorkom nie. Hy waarsku dat verbruikers moet uitkyk vir kostes wat in fynskrif agterop die dokument voorkom en beslis nie so iets moet teken nie.
• Let op na lisensieskywe. ’n Insleepvoertuig behoort twee skywe voorop die venster te hê, een vir sy lisensie asook ’n operateurskyf.
• Verbruikers kan aandring op die insleepvoertuig operateur se bestuurslisensie. Daar behoort ’n blokkie in die regterkantste hoek te wees wat sê dat die bestuurder ’n “PrDP met kategorie G” het of ’n “G&P”.
• UTASA geregistreerde insleepvoertuie behoort plakkers met die relevante jaartal, dus tans 2017, op te hê. Indien die plakkers nie die huidige jaartal bevat nie, kan dit aandui dat die voertuig nie tans geregistreer is nie.
• Slegs die bestuurder, eienaar of ’n ander persoon wat gemagtig is om wettige eienaarskap van ’n voertuig te neem, en wat op die toneel is, mag toestemming gee vir die verwydering van die voertuig van die toneel af.
Mnr. Pel waarsku ook dat verbruikers bewus moet wees van die polisie se verantwoordelikhede om hulself te beskerm teen moontlike korrupte verhoudings tussen insleepdienste en wetstoepassers.
Die polisie het ’n verantwoordelikheid om voertuie te verwyder as ’n persoon in die ongeluk dood of ernstig beseer is of as die bestuurder gearresteer is vir bestuur onder die invloed van drank of dwelms asook wanneer die voertuig verbind word met die pleeg van ’n misdryf.
Vir verdere inligting of vir verbruikers wat leiding of bystand nodig het, kan UTASA se 24 uur bystandnommer 086 118 8272 geskakel word.
Lees ander nuus hier:
Bekende in vleisbedryf pleeg selfmoord
Video and photos: Ambulance hit by hippo outside Pretoria