News

Waarskuwing aan boere: Pas julle vee op hierdie feesseisoen

Veeboere sal moet bontstaan om veediewe te omseil hierdie feesseisoen. Vier koeie met hul ore afgesny is onlangs op ’n plaas ontdek.

Sleepwaentjie met gesteelde beeste rol, koeie se ore afgesny

Die Brahmaankoeie is vroeg in November van ’n plaas in die Rooikraaldistrik tussen Stoffberg en Groblersdal gesteel.

Die beeste is hierdie week skaars ses kilometer van hul eienaar se plaas op ’n ander plaas gekry.

Al vier die koeie se linkerore is afgesny om hul oorplaatjies te verwyder.

Lees: Boere lei duisende rande se skade

Die koeie is deur ’n soekgeselskap op die plaas van ’n opkomende boer teruggevind nadat die regmatige eienaar inligting ontvang het dat die diere daar versteek word.

Die sleepwaentjie waarmee die gesteelde koeie vervoer is op die dag van die diefstal het slegs 500 meter vanaf die opkomende boer se plaas omgeslaan.

Kyk: Video – Gesteelde sleepwa, beeste langs N4 gekry

Geeneen van die diere is beseer nie en hulle is te voet na hul bestemming aangejaag.

Marble Hall polisie ondersoek ’n klag van veediefstal.

 

 

’n Miljoen rand se beeste gesteel en vir kilometers aangejaag

In nog ’n veediefstalvoorval is 60 verse ter waarde van R1 miljoen Woensdagnag van ’n plaas naby Middelburg gesteel en meer as 30 kilometer ver aangejaag.

Die eienaar van die vee, mnr. Gerrie Gerrits van die plaas Rietfontein, het sy diere Donderdagoggend omstreeks 04:00 op die Bethalpad aangetref nadat een deur ’n voertuig doodgery is en die veeediewe hulself uit die voete gemaak het.

Lees: Mense jaag beeste in pad – drie beeste dood gery en geslag

Mnr. Gerrits is oortuig daarvan dat ’n sindikaat agter die diefstal sit en in die omgewing aktief is om vleis vir die feesseisoen te steel.

Hy het ander boere gemaan om uiters versigtig te wees.

Ook dié saak word deur die polisie ondersoek.

So kan jy jou vee beveilig

’n Bron wat nou betrokke is met veediefstal sake het bevestig dat daar gewoonlik ‘n skerp toename in veediefstal voorvalle vanaf November tot Januarie is.

Dit word toegeskryf aan verskeie faktore soos die toename in aanvraag na vleis gedurende die feesseisoen.

Lees: Skaapdief uit lig gevang

Omdat baie mense met vakansie gaan en werkers gewoonlik oor Desember verlof neem, is plase dikwels meer weerloos gelaat.

Sy beveel die volgende ekstra veiligheidsmaatreëls aan:

  • Stel veiligheidswagte aan om die plaas werf asook beestroppe op te pas.
  • Sorg dat daar genoegsame beligting is waar moontlik.
  • Sorg dat vee duidelik gemerk is.
  • Gebruik meer as een merk metode om vee later te kan identifiseer.
  • Tel vee troppe daagliks.
  • Patrolleer grensdrade en kyk uit vir tekens soos vreemde spore en dat daar met die drade gepeuter is.
  • Jaag diere snags op kraal waar moontlik.

 

Back to top button