Weduwee sukkel om kop bo water te hou
Die weduwee van die man wat meer as twee maande gelede tydens ’n partytjie doodgeskiet is, sukkel om kop bo water te hou.
Mnr. Gerhard Coetzer is op 27 April doodgeskiet by ’n huis in Walter Sisulustraat. Sy jong weduwee, Bianca Coetzer (22), en hul kinders, die driejarige Ronaldo en die jaaroue Biané, sukkel om te oorleef, sedert haar man se dood.
“Ek moes ons blyplek opgee en bly tans by my ouma-hulle. Ons probeer ’n plekkie aanbou, maar my oupa se salaris is maar klein, so dit is moeilik. Hy sorg op die oomblik vir ons.”
Lees ook: Polisie te ‘stupid’ om saak op te los
Me. Coetzer sê sy probeer werk soek, maar dat dit nie maklik is nie, omdat sy geen ondervinding het nie.
Sy is egter meer bekommerd oor haar seuntjie wat gesien het wie skiet sy pa.
In die groep tydens die skietvoorval was me. Coetzer en haar twee kinders, drie mans en twee ouer kinders (die kinders van een van die mans in die groep). Die ander vroue het gery om inkopies te doen.
Een van die mans het met ’n wapen gespeel, ’n skoot het kort daarna geklap.
Met die omdraaislag het sy gesien dat die man nog die wapen in sy hand het.
Sy het teruggedraai om Ronaldo uit die swembad te haal, waarop die tweede skoot geklap het.
Haar man het opgespring, sowat twee treë gevorder en inmekaar gesak.
Lees ook: What really happened when Gerhard Coetzer was shot and killed?
Die man met die wapen het vir haar gevra om vir die polisie te sê dat daar rowers was en dat hy vir haar sal sorg as sy ’n leuen vertel.
Sy het later vir die polisie vertel wat gebeur het, maar hulle wil nie haar weergawe aanvaar nie.
“My kind het presies gesien wat gebeur! Hy het ook gesê waar Gerhard geskiet is!”
Haar seun kry steeds nagmerries. “Hy het nou die aand weer gillend wakker geword en geskree: “hy skiet vir pappa!”.
•Kort na die voorval het die polisie belowe dat hulle Ronaldo sal vat na ’n forensiese maatskaplike werker. Week vir week is die belofte herhaal.
’n Maand gelede is daar navraag gedoen by kapt. Khanyisile Zwane (Middelburg polisiewoordvoerder), wat gesê het dat die ondersoekbeampte met verlof is en dat sy self sal reël vir ’n forensiese maatskaplike werker om die kind te ondervra.
’n Week later het me. Coetzer ’n WhatsApp boodskap gekry wat sê dat die ondersoekbeampte terug is van verlof af en dat hy dit sal reël. Niks het gebeur nie.
Verlede week het me. Coetzer weer die speurtak gebel. Daar is belowe dat hulle haar dié week sal laat weet wanneer die forensiese maatskaplike werker haar kind sal ondervra. Teen Woensdag het sy steeds niks gehoor nie.
•Provinsiale woordvoerder, brig. Leonard Hlati, het gesê dat die saak “behoorlik ondersoek word”.
Die Observer het hom dié week gekontak, maar hy was by ’n vergadering by hoofkantoor en het gesê die joernalis moet kol. Motsholi Bhembe bel. Kol. Bhembe het onderneem om die saak met die bevelvoerder van die speurtak, die stasiebevelvoerder en afdelingsbevelvoerder te bespreek, om uit te vind waarom dit so lank sloer.
Lees ook:
PHOTOS and VIDEOS: Fire destroys Little Elephant
Manne wat met prostese stap is hier
Kry ons nuusbrief
Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry
Soek jy nuus op ‘n drafstap?
Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.
“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.
Volg ons YouTube kanaal.
Het julle vir ons ‘n storie?
Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za
