News

Boere: ’n Boer met ’n stoet in Georgië

’n Plaaslike sakeman en boer, is hard aan die woeker in Europa se eens geslote Oostelike blok, om ’n boerdery, met ’n Bonsmara stoet, daar te vestig.

“Ek is nie ’n boer nie, ek is ’n entrepeneur,” verduidelik Lambert Theron oor homself. Hy en sy vrou Hettie het vyf jaar gelede begin om vir hulself ’n bestaan in Georgië uit te kerf.

“Daar is baie plekke waar mense nog van boere hou en dit vir jou wil moontlik maak om ’n entrepeneur te wees en iets te skep,” sê hy.

Die hoofstad van Georgië het talle indrukwekkende geboue.

Mnr. Theron sê dat hy in die 90’s na verskeie lande gereis het.

In Argentinië het die hoë belasting wat boere, wat verantwoordelik is vir die grootste deel van daardie land se buitelandse valuta, hom gepla.

Hy beskryf Australië as ’n ‘polisie-staat’ met te veel onnodige reëls. Ierland was vir hom ’n fantastiese land maar lewenskostes en grond is peperduur en die plase te klein na sy sin.

Mnr. Theron sê dat hy van Georgië gehou het omdat dit ’n ontwikkelende ekonomie is met talle geleenthede vir ’n entrepeneur. Hy het in 2013 daar grond gekoop.

“Van die begin af was die ondersteuning van die regering en die mense in die land net positief. Dit is ’n aanpassing om ’n ander land se tradisies en denkwyses te leer en aanvaar, maar daar is soveel positiewe dinge wat dit die moeite werd maak,” sê mnr. Theron.

Lees ook: Ses aanvallers bekruip boer

Georgië se wette het intussen verander sodat daar nie meer landbougrond aan buitelanders verkoop word nie. Jy kan ’n huurkontrak met plaaslike mense of die regering aangaan.

Buitelanders kan steeds in kommersiële en residensiële eiendom belê en volgens mnr. Theron is daar heelwat Suid Afrikaners is dit doen.

Lambert en Hettie Theron is besig om ’n stoor met outomatiese voersisteem te bou.

Hy het groot vooruitsigte vir sy plaas en eg Suid-Afrikaans, het hy reeds vir die plaaslike inwoners gewys wat die term ‘’n Boer maak ’n plan’ beteken.

“Ons Afrikaners het ’n ander manier van dinge doen. Ons hou van uitdagings en planne maak. Ons is regtig van ’n ander kaliber. Die boere in Europa is redelik bederf omdat hulle so baie ondersteuning van die regering en Europese Unie kry. Die plaaslike mense is beïndruk met wat ons doen want ons is gedrewe om ’n sukses te maak.”

Hy is die eerste persoon wat Bonsmara semen na Europa uitgevoer het. Georgië se regering wou nie die invoer van embrios toelaat nie en hy en sy vrou is besig om koeie wat hulle daar aangeskaf het, kunsmatig te insimineer.

Lees ook: Plaasaanval – Boer dood voor helikopter hom kan oppik

Hy beplan dan om met die hulp van Arthur de Villiers van die Bonsmara Telersgenootskap, ’n Bonsmara stoet uit die Bruin Switzer en Angus tipe koeie wat hy daar aangekoop het, te teel.

In Europa boer vleisboere meestal met Limousines, wat ’n swaar, grootraam bees is. Mnr. Theron sê dat hy vermoed dat die Bonsmara, wat ’n mediumraam tipe bees is, baie goed daar sal vaar.

Hy sê een van die beste dinge van boer in Georgië is dat jy die mag het om die probleme wat jou in die gesig staar te oorkom.

“Alles wat negatief in Suid-Afrika is, soos die politiek en die misdaad, is uit ons hande, ons kan niks daaraan doen nie. In Georgië is probleme, soos die vreemde taal en armoede, oplosbaar. Jy het die mag om dit aan te spreek. Goed soos rassisme bestaan nie.”

Lees ook: Foto’s – Boer skulidg aan dieremishandeling

Mnr. Theron het op die oomblik twee landsburgers van Georgië permanent in diens geneem. Beide van hulle is gekwalifiseerde prokureurs, maar omdat die land so hoë werkloosheidsyfer het, help hulle nou boer. Hulle help die Theron egpaar baie met vertalingwerk en advies.

Mnr. Theron het ook drie Suid-Afrikaners wat hy gereeld oor vlieg Europa toe om te help met goed soos om store en spilpunte op te sit.

’n Vliegtuigkaartjie kos tussen R7 500 en R11 000 afhangende van die seisoen. Kaartjies is duurder tydens Suid-Afrikaanse skoolvakansies.

Hy sê dat as al jou belastingvereistes in orde is, jy tot R10 miljoen per jaar uit Suid-Afrika in die buiteland kan belê, en dan R1 miljoen per persoon per jaar mag uit vat om te spandeer.

Mnr. Theron het baie goed van Suid-Afrika na Georgië laat verskeep, soos tweedehandse trekkers en implimente, motorfietse, spilpunte en store. Jy betaal nie invoerbelasting op landbouimplimente nie, maar wel BTW.

Lusern groei baie goed waar mnr. Theron in Georgië boer. Op die foto is ’n motorfiets wat hy van Suid Afrika ingvoer het, kompleet met Mpumalanga nommerplate.

Hy raai aan dat boere wat daaraan dink om in die buiteland iets te begin, dit stelselmatig moet doen.

“Dit gaan nog ’n rukkie neem voordat ons ’n winsgewende boerdery in Georgië het, so ek sal aanraai dat ouens nie alles op een slag verkoop en die buiteland aandurf nie.”

Hy sê dat ’n land soos Georgië, waar die werkloosheidsyfer meer as 20% is, vinnig besig is om opgang te maak. Die infrastruktuur is baie goed en daar is indrukwekkende geboue.

Baie dinge daar is ook meer bekostigbaar as op eie bodem:

• Medies is van hoë kwaliteit en heelwat goedkoper as in Suid-Afrika. Mnr. Theron sê waar jy vir ’n prosedure vir een tand in Suid-Afrika R25 000 betaal, kan jy dieselfde prosedure vir jou hele mond doen teen R15 000 in Georgië.

• Waar hy vir sy huis in Middelburg R7 000 per maand aan erfbelasting en water en ligte betaal, kos dit hom net R500 per maand aan krag en gas om in Georgië te bly. Eiendom kos min of meer dieselfde in beide lande, maar jy betaal nie erfbelasting in Georgië nie.

• Hy het ’n splinternuwe Toyota Land Cruiser wat oor die R700 000 in Suid-Afrika kos, vir R480 000 in Georgië gekoop. Mnr. Theron sê dat motors oor die algemeen heelwat goedkoper daar is. Tweedehandse trekkers is baie duur maar nuwe trekkers verhandel min of meer teen dieselfde prys as hier.

• Brandstof is goedkoper.

• Kos is goedkoper as in Suid-Afrika.

Die klimaat in Georgië kan drasties verskil, afhangende van waar jy bly. Die weste van die land kry sowat 1 700 mm per jaar en die ooste van die land skaars 400 mm. Mnr. Theron bly in die middel van die land naby die hoofstad Tbilisi. In die somer word dit soms 40 °C en in die winter tot – 5. Dit sneeu soms maar nie aanhoudend soos in ander dele van die land nie. Sy beeste slaap op ekstra koue dae in ’n stoor.

 

Lambert Theron (heel regs) by ander Suid Afrikaanse boere in Georgië.

Misdaad bestaan meestal uit nie-ernstige dade wat spoedig opgelos word deur die plaaslike polisie. Mnr. Theron sê die polisie vat nie nonsens nie, maar is verdraagsaam teenoor buitelanders.

“As hulle jou aftrek het ’n rekenaarsisteem klaar jou nommerplaat gelees, jou geïdentifiseer en spreek hulle jou op jou naam aan.”

Hy sê dat die polisie hom baie goed gesind is en hy hulle tot al gehelp het om karre wat die pad byster geraak het, met sy Cruiser uit te sleep.

“Ek is baie opgewonde oor wat ons in Georgië doen. Die enigste ding wat ek van Suid-Afrika sal mis, is my jaarlikse jaguitstappie.”

 

Lees ook:

Familie worstel twede nag met vrae oor verdwene vrou

Pumas se sukses in ‘n voorbeeld van eendrag maak mag

Geen heenkome vir misbruikte kinders

Kry ons nuusbrief

 

Soek jy nuus op ’n drafstap?

Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.

“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.

Volg ons YouTube kanaal.

Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry

Het julle vir ons ’n storie?

Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Check Also
Close
Back to top button