News

Pastoor sê hy sal aanhou werk met verslaafdes op straat

Past. Jannie Jacobs het reageer na aanleiding van mense wat uitlatings gemaak het op sosiale media oor die feit dat hy bedelaars vra om hulle te toets vir dwelms, asook die gebeure waar ’n bedelaar vir hom weg gehardloop het.

Past Jacobs se antwoord:

Ek verwys graag na die berig: “Middelburg bedelaar hardloop weg vir pastoor”.

Ek het dit goed gedink om julle te antwoord, omrede ek liefde en besorgheid van julle kant af beleef.
Ek werk ongeveer vyf jaar met dwelmverslaafdes as deel van die Oorwinnaars.

Verslaafdes bly al sowat vier jaar saam met my en my familie in ons huis. Ons deel hul lief en leed 24/7.

Hulle word soos familie in ons huis. Meeste van hulle het geen ander heenkome nie en kan nie geldelik bydra tot die huis nie.

Voor hulle die huis verlaat, na hulle program voltooi is, word daar gebid dat hulle in die samelewing sal inpas en die werk sal kry wat God vir hulle beplan het, en die finansies en in die regte omgewing.

Lees ook: Middelburg bedelaar hardloop weg vir pastoor met dwelm toets

Dit is altyd hartseer wanneer ’n dwelmverslaafde sterf aan ’n oordosis dwelms. Ek het al talle begrafnisse (vir die Oorwinnaars) gedoen.
Dit is hartverskeurend wanneer ’n verslaafde persoon begrawe word. Dit is nie wat God beplan het nie.

In sommige (baie) gevalle dra Oorwinnaars al die kostes van die begrafnisse. Ek verdien nie ’n salaris vir die werk wat ek doen nie en lewe in die geloof.

God het die volgende vir my gegee nadat ek gevas het en gevra het wat Sy wil is: Psalm 68:6-7 “’n Vader van die wese en ’n regter van die weduwees is God in Sy heilige woning. God laat die eensames woon in ’n huisgesin, Hy lei die gevangenes uit in voorspoed; maar die wederstrewiges woon in ’n dor land.”

Asook Jesaja 58:7: “Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie?”

Ek tree op in gehoorsaamheid aan God.

Wanneer Oorwinnaars geskakel word om iemand te help, hoor ons telkemale. “Ons het niks oor nie. Hy het alles verkoop. Ons kan nie ’n bydrae tot die huis maak nie.”
Ons by Oorwinnaars kan net 12 persone op ’n slag huisves. Wanneer ’n verslaafde na normaliteit terugkeer, eet hulle vyf maal per dag.

Hulle kry een maal per week ’n stafie (slab) sjokolade, gaskoeldrank en springmielies en Saterdae word daar gebraai. Dit word alles deur ons voorsien.

•Verslaafdes by verkeersligte lieg en lei Jan publiek om die bos. Jy koop indirek vir hom dwelms en is daarom saam verantwoordelik as hy sterf aan ’n oordosis.

Wanneer ek ’n persoon by ’n verkeerslig sien, vra ek hom of hy dwelms gebruik, hulle antwoord altyd “nee”.
Sodra ek die dwelmtoets uithaal, kan en wil hulle nie toets nie. Daarna erken hulle dat hulle dwelms gebruik.

Lees ook: ‘n Dorp in ‘n dwelmkrisis – verslaafdes bedel en sterf op straat

Ek nooi hulle om by my te kom woon en verduidelik die reëls. Van hulle kom en word gesond. Sommiges loop weg na ’n dag of drie.
Volgens hulle is dit “te moeilik”. Ander bly op straat, want hulle word van geld voorsien. Dit is net te maklik vir hulle om op straat die dwelmdraak te voed.

Een persoon het selfs gespog dat hy Kersdag ’n R1 200 ingesamel het en selfs 25 persent afslag by sy dealer gekry het, vir die groot hoeveelheid dwelms wat hy gekoop het!

Ek meld die volgende aan die mense by die verkeersligte: “indien jy negatief toets, sal ons ’n berig in die koerant plaas en sê jy is skoon.” Daar was nog nooit iemand wat die toets geslaag het nie.

•Verlede week het ek vir vier mense by ’n ander verkeerslig gebid wat met hulle CV’s werk soek.
Die joernalis het belowe om dit in die koerant te plaas, sodat mense van hulle notisie neem. Ek glo God gaan self hier intree.

•Terloops, die persoon wat weggehardloop het, is, volgens sy vrou, gediagnoseer met kanker. Is dit waar? Ek het nog nooit met hom gepraat nie.
Sy vrou het botweg geweier om deur ’n vrou getoets te word, natuurlik op ’n geskikte plek waar haar privaatheid beskerm sal word.
Ons toets nie in die straat nie, hulle word na ’n geskikte plek geneem.

•Ek het al met talle, en gaan nog met baie verslaafdes werk, want ek weet dit is God se plan vir my lewe.
Die stories wat hulle opdis, is gewoonlik vêr van die waarheid. Ja hulle is mense, maar soms moet hulle “rockbottom” bereik voordat hulle gehelp kan word.

•Ek werk daagliks met verslaafdes se familie, en kry talle oproepe van stukkende ouers en dus verstaan ek julle frustasie en pyn.
Sommige ouers het al gemeld dat dit beter sal wees dat hul kind sterf, want ten minste weet hul dan waar hul kind is en hoef nie nagte wakker te lê en bekommer oor hulle nie. Party is verby moedeloos.

Lees ook: Dit is wat dwelm-ouers aan kinders doen

Elke oproep wat hulle kry van ’n onbekende nommer of ’n “please call me” verwag hulle die ergste.
Verslaafdes het geen gewete nie en sal enigiets, ek herhaal, enigiets doen vir hulle volgende fix.
Almal word altyd beskuldig en die fout lê “nooit” by hulle nie. Hulle weet baie goed hoe om mense te manipuleer.

•Mense gee graag geld en kos om hulle gewete te sus, maar deur dit te doen het jy indirek deel aan sy verslawing. Die Bybel sê: “Weë hom wat aan ’n ander sterk drank gee.”
Indien verslaafdes nie meer geld kry by die verkeersligte nie, kan hulle nie dwelms koop nie. Soos ek deur die strate ry, herken ek 90% van hulle, want meeste van hulle het al by ons aangeklop vir hulp.

•Verslaafdes by Oorwinnaars neem net drie dae om deur die erge onttrekking te gaan. Ons gee die eer hiervoor aan Jesus Christus. Dankie Jesus dat die Heilige Gees in hierdie huis werk.
Dit is elke keer ’n wonderwerk om te aanskou. Ons bid in die drie dae gereeld vir hulle, onophoudelik.

Ander wat gesond is, bid en praat moed in. Daardeur word ’n verslaafde oorreed om dit uur vir uur te vat.

Lees ook: Heroïen hou hulle op straat

Wanneer hy begin eet, glo hy in die wonderwerk wat plaasgevind het. Vir sommiges wat dit nog weke voordat hulle ’n ordentlike nagrus kan geniet.
Die oë word weer helder, die glimlag breek deur. Hulle besef die werklikheid, “ek het deurgedruk”. God kry al die eer. Hulle begin weer leef.

Familiebande word herenig. Hulle word gesond, lag gereeld, tel gewig op, ’n gemiddeld van 20kg per persoon.
Die mooiste van alles, hy begin God met ’n passie dien, word gedoop en ontvang die Heilige Gees.

Wonderwerk op wonderwerk. Familielede staan verbaas, huil wanneer hulle kom kuier en hulle geliefde sien soos wat hulle hom kan onthou, voor die dwelmduiwel sy verskyning gemaak het.

Wanneer van die eks-verslaafdes getuig, die huis verlaat, trou, gedoop of pa word, word saam gehuil, God geloof.

•Ja ek het ook ’n verlede, en kom uit drank-, dagga- en sigaretverslawing. Ek dank God dat Hy my vrygemaak het. Wie God vrygemaak het, is werklik vry. Ek is nou 12 jaar vry.

•Om mee af te sluit: indien ek eendag voor God staan en Hy my vra wat het ek gedoen vir die verslaafde by die verkeerslig, wil ek antwoord: “Abba Vader, ek het hom genooi om by my te kom woon. Vader ek het nie sy verslawing gevoed nie. Nadat alles gefaal het, het ek hom uit die vuur probeer ruk deur sy weë aan ander bekend te maak. Ek het alles probeer, na die beste van my vermoë.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button