News

Jou lugtyd help ’n tronkvoël dwelms koop

As ’n storie te goed klink om waar te wees, dan is dit gewoonlik. Talle inwoners plaaslik en in buurdorpe was al die slagoffer van ’n lugtyd slenter.

Dit behels gewoonlik ’n oproep van ’n “gawe oom” wat hom as welaf dokter of boer voordoen en sy teikens lok met of die belofte van werk of iets wat hulle gratis kan kom afhaal op ’n plaas.

Die man versoek dan dat jy selfoonlugtyd vir hom of sy vrou moet saambring vir een of ander dringende rede. Daar is al aangevoer dat hulle op pad oorsee is die volgende dag en dringend ’n oorbetaling moet maak, of dat hulle ver van die dorp af bly. Brood en melk word soms, net om die aandag van die lugtyd af te trek, gevra.

Opgewonde oor ’n belofte van werk of gratis vleis, word die teiken gewoonlik so deurmekaar gepraat dat hulle niksvermoedend die lugtyd kode oor die foon af lees of SMS. Sodra dit gedoen is, is die gawe oom, sy vrou, sy plaas en die belofte wat hy gemaak het skoonveld.

Ben Almero, van National Crime Assist (NCA), het nadat die soveelste slagoffer ingedoen is, begin speurwerk doen.
Hy het die skuldige se spoor tot in die Bethal tronk gevolg.

Lees ook: Talle geteiken deur lugtyddief

Mnr. Almero sê dat die man by gevangenisdienste aangemeld is en dat hulle besig is met ’n ondersoek. Die man is ook intussen na ’n ander tronk verplaas, sodat hy nie meer kontak met sy makkers het nie. Dit is egter nie die enigste gevangene wat met die slenter besig is nie.

“Ons het nou onlangs weer iemand gevang. Hulle sit ook in ’n tronk,” vertel mnr. Almero.

Hy sê dat dit wil voorkom of die slenter deur gevangenes onder mekaar aangeleer word. Skuldiges wat uitgevang word, word wel aangekla maar is dikwels reeds iemand wat tot lewenslange tronkstraf gevonnis is.

Dit blyk ook dat gevangenes soms hulp van buite het om hulle te help om teikens te identifiseer. Met ander tye infiltreer hulle Facebook of WhatsApp groepe en identifiseer so teikens.
Die lugtyd wat deur die slenter bekom word, word weer as middel om handel te dryf gebruik om vir goedere soos geld, sigarette of dwelms te ruil.

Mnr. Almero sê dat solank as wat mense naïef is en stories wat te goed om waar te wees glo, sal die slenter nooit ophou nie.

“As iemand jou uit die bloute bel, met ’n goeie storie en vra vir lugtyd, moet jy weet hier is iets verkeerd. Hou op om vir hulle lugtyd te koop en dan sal hulle ophou met die scam want hulle sal sien dit werk nie meer nie,” sê mnr. Almero.

Back to top button