News

Berugte kaptein Awie Geldenhuys afgedank

Kapt. Awie Geldenhuys is afgedank.

Kol. Bafana Mahlangu (Ondersteuningshoof, Witbank Polisiestasie) het pas bevestig dat die provinsiale kantoor hul in kennis gestel het dat kapt. Geldenhuys afgedank is.

Brigadier Leonard Hlati (provinsiale woordvoerder) het by navraag gesê dat hy nie kommentaar kan lewer oor werknemer/werkgewer aangeleenthede nie.
www.mobserver.co.za het betroubaar verneem dat sy dissiplinêre verhoor op 2 Augustus afgehandel is.

Die afdanking volg bykans vier maande nadat hy geskors en ’n departementele verhoor gevolg het.

Die rede vir die departementele verhoor is nooit amptelik bevestig nie. Daar is verneem dat die verhoor gevolg het na ’n voorval op 21 Maart vanjaar, waar ’n meisie aantygings teen kaptein Geldenhuys gemaak het.

Tarryn Mieklejohn (36), beter bekend as “Jazz” het later vir www.mobserver.co.za gesê dat kaptein Geldenhuys een oomblik nog vriendelik was “en die volgende oomblik in ’n monster verander en my met die vuis geslaan het.”

Lees ook: Berugte polisieman word weer ondersoek na meisie se klagtes

Me. Mieklejohn het klagtes van aanranding met die opset om ernstig te beseer en klagtes onder die seksuele misdrywe wet teen kapt. Geldenhuys aanhangig gemaak.
Sy het vertel dat hy vir haar ’n geleentheid aangebied het huis toe, maar dat hulle net ’n klein entjie gery het, “voor hy verander het”.

Hy het na bewering vir haar gesê hy is ’n polisieman van eMalahleni en “dat daar baie sake teen hom is”.

“Ek het nog vir hom gesê ek is darem nie bang vir hom nie. Die volgende oomblik het hy my vol in die gesig met sy vuis geslaan en my op my regter kakebeen getref. Ek kon die haat in sy oë sien!”

Sy het beweer dat hy ook haar denim probeer aftrek het. “Ek het vir hom gesê ek is op my maandstonde, maar hy het steeds aangehou om daaraan te trek. Ek het gewéét wat kom en steeds kalm met hom probeer praat.’

Op hierdie tydstip het hy haar na bewering begin wurg.

Die beserings wat Taryn Mieklejohn beweer sy het opgedoen toe kapt. Geldenhuys haar gewurg en met die vuis geslaan het.

Me. Mieklejohn het gesê dat sy nie weet wat hom laat besluit het om haar skielik te los nie, maar die oomblik toe sy greep verslap, het sy uit die kar gespring, gehardloop tot by haar huis, oor die muur gespring en ’n ruk in ’n bos geskuil. Eers nadat sy seker was sy kar was weg, het sy by die huis ingehardloop en haarself toegesluit.

Nadat sy klagtes by die polisie aanhangig gemaak het, het die Onafhanklike Klagte Direktoraat ’n verklaring by haar geneem. Hulle het haar ook laat weet dat hy teenklagtes van diefstal teen haar aanhangig gemaak het.

Lees ook: Vrou sê sy doen dit vir meisie op sypaadjie

•Hierdie bewerings het net twee maande gevolg ná die dood van kapt. Geldenhuys se vriendin, Maryka Kleinhans. Sy het op 27 Januarie in Kranspoort gesterf. Daar was twee weergawes van wat moontlik kon gebeur het. Die een was dat sy uit die kar gespring het en die ander was dat sy uit die kar geval het.

Haar ouers, Johan en Petro Bezuidenhout, glo nie een nie, want sy het ’n driejarige dogtertjie gehad wat tuis gewag het.

Hulle is steeds omgekrap omdat kapt. Geldenhuys hulle nie self van hul dogter se dood in kennis gestel het nie. ’n Vriendin het hul dogter die volgende dag op Facebook gekontak en gevra sy moet haar dringend bel, waartydens sy haar van Maryka se dood vertel het.

Maryka sou op 3 Junie haar 32ste verjaardag gevier het. Op dié dag het haar gesin na Kranspoort gery waar hulle ’n bord met haar foto en spesiale boodskappe opgesit het.
Hulle weet steeds nie presies waar sy gesterf het nie, maar het ’n plekkie gekies om haar verjaardag te vier.

Een van die vele foto’s wat op die Facebookblad, Justice for Maryka, van Maryka Kleinhans geplaas is. Sy het op 27 Januarie vanjaar in Kranspoort gesterf.

Die Bezuidenhout egpaar het nie hul dogter se verhouding met kapt. Geldenhuys goedgekeur nie.

•Dit is nie die eerste keer dat kapt. Geldenhuys in ’n departementele verhoor skuldig bevind word nie.

Hy is in 2012 skuldig bevind aan wangedrag na twee sake waar een vrou beweer het dat hy haar betas en die ander een gesê het dat hy haar verkrag het.
Hy was op daardie stadium gestasioneer by KaNyamazane naby Nelspruit. Sy skuldigbevinding het gevolg na die beweerde voorvalle by sy huis in Nelspruit.

Lees ook: Bekende polisiekaptein op toneel waar vrou langs pad gesterf het

Tydens die arbitrasiesaak in 2014 is die getuienis en bande van die departementele saak aangevra, maar dit kon nie opgespoor word nie en is kapt. Geldenhuys weer heraangestel.

•Daar is verneem dat die saak in die strafregtelike hof ook nie kon voortgaan nie, omdat die klaers “nie opgespoor” kon word nie. Hulle het kort na die beweerde gebeure verhuis.

•Die twee vroue het in 2016 hul weergawe van die gebeure aan die Middelburg Observer vertel.

Lees ook: VIDEO: Ondersoek na meisie langs pad

•Tydens sy borgaansoek in hierdie saak het hy destyds gesê “dat daar ’n element van toestemming was.”

•Die vroue moes tydens die departementele verhoor weer getuig. Beide vroue sê hulle was destyds ontsenu, omdat kapt. Geldenhuys tydens die verhoor die hele tyd vir hulle gesit en lag het.

•Tydens ’n oproep na die Witbank Polisiestasie het die vrou wat die foon geantwoord het, gesê dat kapt. Geldenhuys “nie op diens is nie en ek weet nie wanneer hy terugkom nie. Hy is geskors.”

www.mobserver.co.za het kapt. Geldenhuys al talle kere vantevore, asook vandag gebel vir kommentaar. Daar is ook ’n stemboodskap gister en vanoggend vir hom gelaat, maar hy het nog nie reageer op navrae nie.

•Die prokureursfirma, Van Heerden & Brummer Prokureurs is gekontak, maar sy prokureur, Johan van Staden, was in konsultasie en kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Back to top button