News

‘Treinvernielers’ vertel oor aanvalle op treine, stasies en spoorlyne gedurende die Anglo Boereoorlog.

Die mede-skrywer van die boek, Treinvernielers, dr. Tian Schutte, gaan ’n paar boeke saambring wanneer hy op Middelburg kom kuier.

Dr. Schutte het die boek saam met skrywer, Peet Coetzee, uitgegee.

“Treinvernielers – aanvalle op treine, stasies en spoorlyne in die ZAR gedurende die Anglo-Boereoorlog 1899-1902” handel oor die aanvalle op treine, stasies en spoorlyne gedurende die Anglo Boereoorlog.

Middelburg se betrokkenheid maak ’n groot deel van die boek uit.

Persone wat wil hê dr. Schutte moet vir hulle eksemplare van die boek saambring, kan hom bel of WhatsApp by 082 338 9859 of stuur ’n e-pos na tian@avima.co.za.

In sy eie woorde, gee hy ’n kort oorsig van die boek:

Dit is asof die Britte voor die Anglo-Boereoorlog net gewag het dat die ZAR (Transvaal) die spoorlyne voltooi het, toe hulle die Boere-Republieke uitgelok het met die Jameson-inval. Die eerste skoot en artillerieprojektiele wat tydens die oorlog afgevuur was, was juis op ’n trein by Kraaipan, suid van Mafikeng.

Na die aanvanklike suksesse deur die Boeremagte in die begin van die oorlog, het die Britte die oorhand gekry en is die Boere-Republieke beset.

Mobiliteit was krities vir die groot Britse mag. Dit het die Boere ook besef en met hulle uittog uit Natal, het hulle alle brûe, waterreservoirs, en tonnels opgeblaas in ’n poging om die Britse opmars te stuit.

Mettertyd, soos die Boere se voorrade opgeraak het, het hulle besef dat die spoorlyne, die voedingsaar van Britse militêre voorrade, hulle goed te pas sal kom. Aanvanklik is treine amper daagliks in hulle spore gestuit deur ghries op spoorstawe te smeer, klippe om draaie te pak en spoorstawe los te maak.

Van die Boerekommandos het treine teen steil bulte ingejaag met hulle perde en die remme se vakuumpype gesny, waarna die treine se remme aangeslaan het. Dit het die Britte genoop om masjiengewere op treintrokke voor en agter die treine te monteer om sulke aanslae af te weer.

Die Boere moes gou alternatiewe maniere soek en dis waar die vindingrykheid van Carl Cremer, die eerste “IED” eiehandig gebou en beproef het. Die eerste trein wat met dinamiet opgeblaas is, was suid van die hedendaagse Yskor-werke by eMalahleni.

Dit het groot amok onder die Britte gesaai en was hulle genoop om alle treinvervoer snags, op te skort.

Treinspore moes vroeg soggens eers geïnspekteer word alvorens treinvervoer kon voortgaan. Hierdie spoormyn was so gewild onder die Boere dat sewe kommando’s in die Transvaal geopereer het.

Van hierdie kommando’s het soms uit nege lede bestaan en het kans gesien om treine voor te lê, waarvan die hoeveelheid Britse troepe op die naderende treine onbekend was.

Die Boere moes naby die spoorlyne stellings inneem en het soms die Engelse in die oë gekyk voordat die myn ontplof het. Die rede hiervoor was omdat die Britte oral loopgrawe langs die spoorlyne gegrawe het om in te skuil indien treine ontspoor word.

Hierdie treinvernielers het die Britte raadop gehad. Lospryse is later op van die Boere se koppe geplaas, maar dit het hulle nie afgeskrik nie. Mettertyd het die plasing van blokhuise langs die spoorlyne en spesiale pantsertreine, draadversperrings, diep slote en “booby traps” langs spoorlyne hierdie Boerebedrywighede aan bande gelê.

Die boek gee ’n breedvoerige bespreking van die ontstaan van die spoorweë in die Transvaal en ook bou van stasies.

Verskeie aanvalle op treine, wat later unieke name gehad het weens die vrag wat hulle vervoer het, of die plekke waar dit plaasgevind het, soos die “Suiker-“, “Whiskey-” , “Krismis-“, Hartbeeslaagte, Koekemoer, Frederikstad en “Ganger hut”.

Die aanvalle word breedvoerig bespreek en op kaarte aangedui. Waar moontlik, is die GPS koördinate gegee, asook die maan se posisies tydens nagaanvalle. Alle gesneuwelde Boere en Britte tydens treinaanvalle se name is aangeteken, asook waar hulle begrawe is. Daar is ook ’n volledige opsomming van alle spoorinsidente regoor Suid-Afrika van die begin tot die einde van die oorlog.

Deur die toedoen van Boere treinvernielers, word ’n pantsertrein vroeg in die ABO deur die Boere ontspoor waartydens Winston Churchill, die latere Eerste Minister van Engeland gedurende die Tweede Wêreldoorlog, krygsgevange geneem word.

Hierdie Boerekommando’s kan as die eerste “recces” in Suid-Afrika beskou word, want dit was juis hulle wat Winston Churchill geïnspireer het om die Britse spesmagte, die sogenaamde “Special Air Services” (SAS) op die been te bring tydens die Tweede Wêreldoorlog.

Back to top button