News

Jan se laaste versoek: “Bid vir almal”

Onder die sterre, net voor hy Saterdag in die helikopter gelaai is in die parkeerarea van die Life Midmed Hospitaal, het Jan Ludeke (53) nog vir sy familie gesê: “Bid vir almal”.

Kort na sy aankoms by die hospitaal in Midrand, om 23:56 Saterdagaand, is hy oorlede.

Sy dogter, Angelique, het in ’n spesiale boodskap gesê: “God het ons ’n kans gegee om vir Pappa te sien. Hy het ons gesien. Hy het woorde probeer uitmaak. Ons kon met hom praat, sy hartklop het rustiger geraak toe hy daar lê. Ek dink dis toe hy ons in persoon kon sien.”

Sy vertel dat almal wat hom ken, “weet hy was lief vir vlieg. Hy het met sy gesiggie by ’n groot venster gelê toe hulle opstyg. Hy kon al die liggies sien van Middelburg af tot in Midrand. God het sy laaste paar ure so spesiaal gemaak.”

Angelique sê sy, haar pa, ma en een boetie, het almal verlede jaar Desember die Covid 19 virus gekry, “al was ons by die huis oor Kerstyd.”

Die virus het egter mnr. Ludeke se longe begin beskadig en hy het sodanig verswak, dat hy op 9 Januarie in die Life Midmed Hospitaal opgeneem is.

“Ons het keer op keer slegter nuus gekry oor hom, maar kon hom nie gaan sien nie, omdat geen besoektye toegelaat word nie.”

Sy onthou hartseer dat haar pa eers in intensief was en daarna na hoësorg geneem is.

Mnr. Ludeke moes egter weer terug intensief toe, maar daar was nie ’n bed beskikbaar nie.

“Daar is oral gesoek vir ’n bed en op die ou einde was daar ’n bed oop in Midrand en hy is op 23 Januarie na Midrand gevlieg.”

Angelique sê dat die paramedici later vir haar gesê het dat “dit goed gegaan het” in die helikopter.

Terwyl hulle met hom op pad was by die hospitaal in, het hy ’n hartaanval gekry en is kort daarna oorlede.

“Dit was nie die bedoeling om pa in ’n ander hospitaal te kry nie. Dit was om dit moontlik te maak vir ons gesin om hom te kon groet in persoon en vir hom sy gunstelling view te gee vir oulaas voor hy na God toe is. Ons het dit nie sien kom nie. Dit was ’n groot skok, maar hy is waar daar nie meer smart en pyn is nie.”

Angelique sê dat die hartaanval veroorsaak is deur die Covid-19 virus wat sy hart aangetas het.

Die Ludeke kinders onthou hul pa as “opreg, eerlik en streng, maar met die sagste hart wat net vir almal wou gee. Hy het almal met respek hanteer. Hy moes altyd iets snaaks doen en kon net nooit alleen wees nie. Hy het altyd sy familie om hom gesoek.”

• Mnr. Ludeke was wel bekend in Middelburg as die eienaar van Ludeke Vervoer.

Hy word oorleef deur deur sy vrou, Ann, kinders Angelique, Jannie, Erens en Errol en skoondogter, Johané.

Die begrafnis is Donderdag om 14:00 en sal aanlyn gevolg kan word.

• Die familie bedank die gemeenskap vir hul ondersteuning.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button