Lugtydboewe opereer ‘al jare’ uit tronk
Die ‘vriendelike omie van ’n plaas’ wat slimstories verkoop om lugtyd te kry, sit in die tronk vir moord en maak duisende rande elke dag om sy dwelmverslawing aan die gang te hou.
So sê David Wessels (stigterslid van die SA Community Watch) wat ’n boef se foon gevolg het tot in die tronk.
In 2019 het die koerant al berig dat mnr. Ben Almero, van National Crime Assist (NCA), begin speurwerk doen het nadat die soveelste slagoffer ingedoen is. Hy het ook die boef in ’n tronk opgespoor.
Die gevangene is na ’n ander tronk geskuif. sodat hy nie kontak met sy makkers kon hê nie, maar net daarna het hulle weer iemand anders uitgevang.
Daar is destyds gesê dat die probleem nie gou opgelos sal word nie, aangesien die meeste van hierdie gevangenes lang tronkstrawwe uitdien en nie omgee om uitgevang te word nie.
Mnr. Wessels stem saam en sê dat dié bedrieërs al vanaf 2014 uit tronke die mense inloop.
“Die persoon wat ons vasgetrek het in die tronk, dien in elk geval ’n 20 jaar tronkstraf uit vir ’n moord op Delmas en hulle kan hom net skuif na ’n ander tronk toe. Hy het ’n makker in die tronk wat hom help met sy lugtydstreke en hulle het mekaar blameer. Hulle het erken dat hulle dwelms daarmee koop.”
Mnr. Wessels sê net twee dae nadat die twee uitgevang is, het hulle weer begin om mense in te loop.
“Jy moet onthou, as hulle lugtyd en genoeg geld het, het hulle toegang tot sosiale media soos Facebook en WhatsApp om te kyk wie hul volgende slagoffer kan wees. Hulle verkoop ook die lugtyd aan ander gevangenes”
Die skuldiges het erken hulle maak duisende rande uit mense uit wat hul stories goedsmoeds glo. Mnr. Wessels vertel van ’n geval waar ’n motorfiets gesteel is, wat ook op Facebook geadverteer is.
Kort daarna het die “vriendelike omie” die mense gebel en laat weet dat hy die “diewe” op heterdaad betrap het. hulle die motorfiets neergesmyt het en dat die motorfiets by hom is.
“Ek het die familie by ’n punt ontmoet, sodat ons die motorfiets kon gaan haal. Die oomblik toe hy sê hulle moet lugtyd saambring, het ek gewéét dis ’n lugtydboef. Die mense wou my nie glo nie en is toe ingeloop.”
Mnr. Wessels waarsku nie net besighede nie, maar ook organisasies, omdat die bedrieërs weet ál die organisasies het tans hulp nodig.
“En hy praat nie dadelik van die lugtyd nie. Hy begin met ’n oortuigende storie met alles wat hy kamtig vir die organisasie wil skenk.”
Daar volg gewoonlik ’n paar oproepe om te sê waar sy plaas is en eers as die persoon op pad is, vra hy “dringend” vir lugtyd en vra die persoon om dadelik die kode te stuur.
“In baie gevalle vra hy eers dat die persoon die Sondagkoerant, of ’n brood of Grandpa poeiers moet saambring en, terwyl hulle by die winkel is, sommer vir hom lugtyd ook te kry.”
• Me. Zillika Lötter (voorsitter, Mid Hartklop) het die lugtydboef sy “eie medisyne” gegee toe hulle gekontak is deur die boer op die Loskopdampad wat kwansuis vleis en melk wou skenk vir die organisasie.
Hulle het gou besef iets is fout toe hy ’n astronomiese hoeveelheid vleis wou skenk en het hom uitgelok in lang gesprekke tot hy uiteindelik vir lugtyd gevra het. Hulle het vir hom verkeerde kodes gegee “en ons het nog nie weer van hom gehoor nie. Ons het egter al sy lugtyd uit gesels!”
• ’n Sakeman van Lydenburg, mnr. AJ Lessing, sê die bedrieër het hom ook gebel om hom te kom help op die pad. Hy is die eienaar van AJ’s Field & Roadside Assistance en was besig met kliënte, toe hy ’n oproep van die “vriendelike omie met ’n Engelse aksent kry.”
Die persoon het hom voorgestel as Brian en gesê dat hy sowat 23km uit op die Burgersfortpad staan. Sy storie was dat sy wiel gebars het en dat sy spaarwiel ook pap is.
Mnr. Lessing het aangebied om soontoe te ry en die spaarwiel te pomp, sodat hy verder kan ry.
“Hy het gesê hy kan nie presies vir my ’n location stuur waar hy is nie, want hy het lugtyd nodig. Ek het nog vir hom gesê: ‘jy moet lugtyd hê om met my te praat.”
Mnr. Lessing was al op pad, toe Brian weer bel en vra vir lugtyd. “Hy het gesê hy sal my sommer R1 000 gee as ek daar kom, maar ek moet vir hom die R300 lugtyd se kode aanstuur.”
Mnr. Lessing het ook saamgespeel en gesê hy is op pad daarmee en dat hy nie nou kan stop om die kode te gee nie.
“Ek het tot in Burgersfort gery met die hoop dat ek hom langs die pad gaan kry om hom ’n paar klappe te gee met sy slimstories, maar natuurlik was hy nie op die pad nie.”
Hy het gevra dat die joernalis “almal moet waarsku, want hy steel baie mense se geld!”
Notice: Coronavirus reporting at Caxton Local Media aims to combat fake news
Dear reader,
As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Caxton Local Media is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19. Readers with any comments or queries may contact National Group Editor Irma Green (irma@caxton.co.za) or Legal Adviser Helene Eloff (helene@caxton.co.za).
Do you have a news lead?
Contact our editorial office on 013 243 1434 or our standby number for emergencies on 072 248 3855 to share your story with us.
Follow us on the Middelburg Observer Facebook group or page or send a WhatsApp to 072 248 3855 with the words “add me” for the latest news.
