Koevoetbende skiet op prokureur toe hy hulle op heterdaad betrap
Die koevoetbende het ’n kort rukkie glede op ’n bekende prokureur geskiet.
Mnr. Schalk Pieterse, en sy vrou, Isabelle (wat by die SAVF Tehuis vir Bejaardes werk) is steeds bewerig na die gebeure pas by hul huis in Hoekbergstraat.
“As ek nie ’n Toyota Land Cruiser gery het nie, het hy my direk in my bene geskiet. Die drie koeëls het nie deurgegaan nie.”

Mnr. Pieterse vertel dat hulle vanoggend hul boswa gepak het vir ’n vakansie na die wildtuin en by hul huis weg is. Hulle het gou ’n paar artikels by die Middelburg Mall gaan koop en besef hulle het iets tuis vergeet.
“Ons was letterlik net 20 minute weg.”

Hy het van bo af skuins voor hul huis gestop, maar dadelik opgemerk dat hul palissadehek oopstaan en ’n silwerkleurige Ford ST voor die motorhuis staan.
Op dieselfde oomblik het hulle die lang man, sonder ’n masker, in die oprit gesien. Hy het woes vir hulle beduie om verby te ry en hulle het die wapen in sy hand opgemerk.
Die volgende oomblik het die skote geklap en het mnr. Pieterse afgejaag in Hoekbergstraat tot by Soutpansberg.

Me. Pieterse het opgemerk dat daar ’n onderwyseres by die hek van die Aerorand Skool staan staan en ook gesien dat daar kinders op die speelapparate is.
“Ek het vir haar geskree om die kinders in te vat, daar word geskiet en sy het gehardloop en die kinders na veiligheid geneem,” sê me. Pieterse.
’n Tuinier het kort na die gebeure gesê dat die Ford opgejaag het in Hoekbergstraat en regs gedraai het in Mandelarylaan, in die N4 se rigting.
• Mid Alarms was binne drie minute op die toneel, waar lede van die Gemeenskapspolisiëringsforumm, Sektor 3.1, asook die sekuriteitsfirma HISQ en die polisie by hulle aangesluit het.
• Dit is duidelik die werk van die berugte koevoetbende, want die slotte van die hek is oopgebreek met ’n koevoet, asook die huisdeure.

Me. Pieterse sê die booswigte het chaos in die huis veroorsaak en hulle kan op hierdie stadium sien dat twee televisies gesteel is. Die kluis is ook oopgebreek en dit is nog nie seker of daar wapens vermis word.
• Daar is drie 9mm doppies in die erf gevind.
• Nie eers die kruis voor die hek met die woorde: “Lewende God” het die bende afgesit nie. ’n Paar weke gelede is ’n bejaarde vrou beroof nadat ’n bende teen ’n reuse kruis voor die huis oorgeklim het om toegang tot die erf te kry.

