News

Vrou uit springkastele geswendel

’n Vrou is uit springkastele en glybane met hul motors ter waarde van R42 000 geswendel, deur ’n sindikaat wat die afgelope drie maande op goedgelowige mense toeslaan.

Me. Yvonne van Staden is een van talle mense wat die afgelope tyd deur misdadigers om die bos gelei is met “bewys van betaling” sms’e van ’n bank af vir artikels wat hulle op Marketplace (Facebook) geadverteer het.

Sy kan nie glo dat sy so maklik om die bos gelei is nie.“Hulle was só oortuigend.”

Me. Van Staden sê die boef wat die springkastele, glybane en motors kom haal het, was selfs so uitdagend om vir haar te sê om die bordjies waar sy geadverteer het dat sy die springkastele uitverhuur, af te haal en vir hom te gee.

Pas nadat sy die advertensie opgesit het, het ’n man haar gebel en gesê dat hy álles sal vat.

“Hy het die aand half 11 hier aangekom nadat hy ’n klomp boodskappe gestuur het om te sê dat ons nie moet gaan slaap nie, hy is op pad.”

Iets in haar was ongemaklik omdat die trok nie registrasienommers op het nie, maar hy het haar vrese besweer, toe hy sommer net daar die geld “oorbetaal”.

Sy het ’n sms gekry wat sê die geld is inbetaal.

Vroeg die volgende oggend het hy haar weer gebel en gevra sy moet vir hom ’n brief skryf, dat hy dit by my gekoop het en dit WhatsApp, want hy is afgetrek deur die polisie.

“Hy het gesê die polisie dink hy het dit gesteel en ek moet asseblief gou vir hom die brief stuur. Ek het geweier en gesê ek sal dit doen sodra die geld in my bank wys.”

Die man was baie kwaad vir haar.

’n Paar ure later het ’n ene “Ronald” haar gebel.

“Hy het vir my gesê dat die persoon wat die springkastele en glybane gekoop het, ’n groot skelm is en dat hy die goed vir my sal terugbring. Hy het gesê ek moet net R500 brandstofgeld vir hom inbetaal, dan bring hy dit terug!”

Natuurlik was dit ’n liegstorie en het sy niks teruggekry nie.

Sy het ’n diefstalsaak by die Middelburg Polisiestasie geopen.

•Me. Van Staden is nie die eerste wat op dié manier bedrieg is nie.

•Mnr. Sarel Bosman is twee weke gelede op ’n soortgelyke wyse om die bos gelei. Hy het op Marketplace op Facebook verskeie artikels geadverteer, waaronder ’n kragopwekker.

In sy geval het die ‘koper’ sy ‘drywer’ gestuur om alles te kom haal.

Alhoewel hy die bewys van betaling sms gekry het, het mnr. Bosman net die kragopwekker vir die man gegee en gesê hulle kan die res kry as die geld in sy bank wys. Pas nadat die persoon gery het, het hy nog ’n bewys van betaling sms van R3 800 gekry.

Die man het hom gebel en gesê dat hulle per ongeluk dié geld vir hom inbetaal het en dat hy dit moet terugbetaal.

Mnr. Bosman het lont geruik en geweier, waarop die man aggressief geraak het en gesê het dat hy dan die betaling gaan stop en die kragopwekker terugbring. Sy foon het weer gelui, dié keer het die man sy stem vermom en gesê hy is die drywer wat die kragopwekker opgelaai het.

Hy het gesê as mnr. Bosman R1 200 vir hom inbetaal vir brandstof, sal hy die kragopwekker terugbring. Op hierdie tydstip het mnr. Bosman besef dis swendelaars en hom in sy peetjie gestuur.

•’n WhatsApp groep is gestig vir mense wat die afgelope tyd hul selfone op Marketplace geadverteer en dan op soortgelyke wyse ingeloop is. Die volledige berig verskyn in die Vrydag uitgawe van die Middelburg Observer.

Mnr. Anthony Boucher (privaatondersoeker van SA Investigations) ondersoek die sake van mense wat ingeloop is nadat hulle op Marketplace artikels geadverteer het.

As daar nog mense is wat deurgeloop het onder dié swendelaars, kan hulle hom bel by 064 534 5853.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button