Kerse gebrand terwyl grafte geplunder word
Grafskenders brand kerse op grafte wanneer hulle foto’s breek en ander artikels van grafte af steel.
Me. Regina Dercksen sê sy kan nie voorbly om haar broer en sy seun se graf netjies te hou nie.
Sy sal nou vir die soveelste keer die foto van haar broer, Gert Smit en sy seun, Gertjie, moet vervang, omdat dit stukkend geslaan is. Die raam is ook gebreek.
Pa en seun het binne drie maande van mekaar gesterf. Gertjie is op 8 Augustus 2008 oorlede en sy pa het op 1 November daardie jaar gesterf.
Me. Dercksen sê die vandale besef nie watter pyn hulle veroorsaak wanneer mense hul geliefdes se grafte so plunder nie.
“Hulle het geen respek of eerbied nie!”
Sedert sy op Facebook ’n plasing daaroor gemaak het, het verskeie mense daarop reageer en gesê dat hulle dieselfde probleme ondervind.
•Me. Natalie Moss het vertel hoe haar ouers se grafte beskadig is en daar oral kerse in die omgewing op grafte gebrand is.
•Me. Caroline Lottering het tydens ’n besoek aan die begraafplaas gesien dat van die grafte geplunder is.
Sy het selfs die afvalmetaal besighede gebel om te hoor of iemand nie die raampies om die foto’s vir afvalmetaal verkoop het nie. Sy kon die foto’s op haar skoonouers se grafte red, maar die raampies is gesteel.
In haar plasing het sy gesê dat dit al van verlede jaar af ’n gereelde probleem by die begraafplaas is.
Me. Vanessa de Bruin was net so kwaad omdat die foto’s op haar man se graf ook beskadig is.
