Vier ma’s se soeke na vermiste seuns
Vier angsbevange ma’s het sedert ’n hawelose jong man op ’n stoep gesterf het, navore gekom, in ’n poging om hulle kinders op te spoor.
’n Jong man se liggaam is Dinsdagoggend op die stoep van die Cresta Sentrum in Walter Sisulustraat (Middelburg) gevind.
Sy naam kon nie bekend gemaak word nie, omdat hy nog nie uitgeken was nie.
Minute nadat die berig verskyn het, het die eerste oproepe begin instroom. Elke keer ’n ma wat vra: “Is dit dalk my seun?”
Met elke navraag het die ma gesê dat haar seun ’n dwelmverslaafde en op straat is.
Een van die bekommerde ma’s was bereid om haar naam te noem en haar hartseer verhaal te vertel.

Linda du Toit bly in Zambië en sê sy soek al vir meer as drie jaar na haar seun, Duke Prinsloo (29).
“Die laaste wat hy gesien is, is toe hy in 2018 deur ’n familielid voor Mid Alarms afgelaai is, om daar werk te soek. Ons het nooit weer van hom gehoor nie.”
Duke het egter nooit ingegaan by die deure van Mid Alarms nie.
Me. Du Toit sê kort nadat sy niks meer van Duke gehoor het nie, het sy gereël dat ’n familielid ’n vermiste persoon saak open by die polisie. Hulle het egter tot op hede ook niks van die polisie gehoor nie.
Lees ook: Stille skok na jong man op stoep sterf
Sy en haar kinders het nie ’n maklike lewe gehad toe hulle in Secunda en later in Middelburg gebly het nie.
“Ek het op ’n stadium as alleenma by drie plekke gewerk, om my kinders te onderhou.”
Sy was geskok toe sy Duke al in sy graad agt jaar uitgevang het dat hy met dagga eksperimenteer.
As ma het sy later net gewéét dat hy dit nie laat vaar het nie.
In 2015 het hy vanaf Mei tot Oktober by Mid Alarms gewerk as junior tegnikus. Hy het egter self bedank.
“Dit het nog goed gegaan met hom toe hy by Mid Alarms gewerk het.”
Sy onthou dat hy van Middelburg af Carletonville toe is en daar as karwag gewerk het.
“Hy is gearresteer vir dwelmbesit en is tronk toe gestuur. Ek het vir ’n familielid geld oorbetaal en hy het sy borg in Augustus 2018 betaal. Daardie selfde week het die familielid hom Middelburg toe gevat en het hy verdwyn.”
Me. Du Toit sê haar seun sou nie uit sy eie uit alle kontak met haar, sy familie en vriende verbreek het nie.
“Hy het selfs uit die tronk uit my gekontak en was opgewonde om Middelburg toe te gaan en weer te werk.”
Sy het al enigiets probeer doen om haar kind op te spoor.
Sy het al sy vriende per Facebook genader en gevra of hulle nie dalk weet waar hy is nie. Hulle het haar laat weet dat hulle hom ook nie weer gesien het toe hy teruggekom het Middelburg toe nie.

Me. Du Toit het die “Waar in die Wêreld” Facebookgroep ook gekontak, wat probeer het om Duke op te spoor.
Die doel van dié groep is om verlore familielede, geliefdes en vriende te probeer opspoor. Hulle hanteer geen anonieme versoeke, kompetisies of advertensies van enige aard nie en vermiste persone se foto’s mag slegs geplaas word indien die persoon amptelik by die Pink Ladies en die polisie as vermis aangemeld is.
Hulle het haar laat weet dat daar geen doodsertifikaat uitgereik is nie en dat hy ook nie aansoek gedoen het vir ’n nuwe ID dokument nie.
“As my kind dood is, wil ek net wéét. Dit is verskriklik om met elke doodsberig wat iewers aanlyn verskyn, waar iemand nie geïdentifiseer is nie, navraag te doen of dit nie dalk my kind is nie!”
•Duke se regte name is Marmaduke Costello Prinsloo en sy identiteitsnommer 9209085021085.
•Me. Du Toit sê haar seun het blou oë, donkerblonde hare, rooi geboortevlekke op sy vingers en tatoeërmerke op sy regterarm.
As enige persoon inligting kan verskaf waar hy hom mag bevind en of hy dalk oorlede is, bel of WhatsApp me. Du Toit by +260 96 3449061.
Inligting kan oor deurgegee word aan Daleen Naude per e-pos by daleen@mobserver.co.za of 013 243 1434.
•Www.mobserver.co.za het hierdie week verneem dat hy vroeër jare gereeld saam met Zane Kruger (sy neef) op straat gesien is, maar Zane is ook jare terug laas in Middelburg opgemerk.
Die joernalis het gister weer bevestiging gekry dat daar nie ’n amptelike doodsertifikaat uitgereik is nie.
Volgens inligting het hy soms by vriende by Koppiestraat gaan kuier, maar dit was ook jare gelede.
•Mnr. Anthony Boucher (privaat ondersoeker van SA Investigations in Middelburg) sê hy sal ook help met die ondersoek om Duke op te spoor. Inligting kan aan hom verskaf word by 064 534 5853.
•Die jong man wat Dinsdagoggend dood op die stoep by die Cresta Sentrum aangetref is, is geïdentifiseer as Lucky Geelbooi Sindane.
Daar was nie sigbare beserings op hom dat hy moontlik vermoor is nie. Dit is nog onbekend wat die oorsaak van sy dood is.
•Daar is al vier mense as armlastsiges begrawe in die Phomolong begraafplaas.
•Johnny Bosman, wat sowat sewe jaar gelede verdwyn het, is ook steeds soek.
