News

Berou nadat down sindroom kind ‘malkoppie’ genoem is

’n Man het ’n brief van verskoning gerig aan ’n ma en haar down sindroom kind, nadat hy hulle met krutaal beledig het op Facebook.

Hy het onder andere die down sindroom kind “’n malkoppie” genoem.

Die ma van die kind het gevra dat mnr. Anthony Boucher (privaat ondersoeker van SA Investigations in Middelburg) haar help om die saak te ondersoek, die skuldige op te spoor en ’n saak by die polisie aanhangig te maak.

Nadat ’n berig op www.mobserver.co.za verskyn het, het oud-Middelburger, Ferdie Steyn, mnr. Boucher en Daleen Naude van www.mobserver.co.za genader en gesê hy wil ’n klas-aksie saam met ander ouers met down sindroom kinders, asook namens alle down sindroom kinders begin.

Lees ook: “Facebook bully” faces formal charges after alleged shaming of Down Syndrome baby and her mother

Hy het self ’n kind met down sindroom en het hulle na Gauteng verhuis, om beter geleenthede vir hul kind te bied.

Mnr. Boucher sê die Facebook boelie het hom gekontak en ’n amptelike brief van verskoning aan die ouers van die kind gerig. Nadat die ma die brief onder oë gehad het, het sy die kriminele saak teen hom gaan terugtrek.

Die man het toestemming gegee dat www.mobserver.co.za die brief gebruik, maar op voorwaarde dat net sy van, Botha, en nie sy naam daarmee saam gebruik word nie.

•Die brief lui as volg:

“Goeie dag meneer Boucher van SA Investigations. Eerstens wil ek dankie sê dat u my oproep geneem het. Ek voel eintlik al klaar ’n bietjie beter na ons gesels het en die feit dat u bereid was om my uit te hoor, beteken baie vir my.

Ek is al vir jare besig om mense te probeer help op Facebook om nie deur skelms uitgevang te word nie.

Mens sien baie gevalle waar mense ingedoen word en ek het oor die algemeen ’n goeie oog vir so iets, ek het my talent gebruik om mense te help waar ek kan. Ek sal erken ek het al teen tye krutaal gebruik en ek was al ’n bietjie bombasties teenoor mense wat ek kon sien doen skade aan ander deur middel van skelmstreke.

Dit het my nog nooit baie gepla nie, maar toe doen ek iets baie lelik en ek moet erken dit laat my snags wakker lê.

Ek was op Facebook besig toe ek die plasing van ’n persoon sien. Die plasing het al die kenmerke gehad wat ek al soveel keer gesien het in skelm plasings.

Ek het opgetree en mense gewaarsku en toe raak ek betrokke in ’n bekgeveg met die persoon wat die plasing geplaas het.

Kort voor lank was daar vriende betrokke en lelike woorde is heen en weer geslinger.

Dit sou my nie oor die algemeen pla nie, maar ek maak toe in ’n oomblik van woede die fout, en in my opinie ’n fout heeltemal buite my karakter; om die vrou by te kom, begin ek toe spot dryf met haar kind se voorkoms.

Ek het na die tyd, toe ek eers kalmeer het, na die kind gekyk en weet u sy is eintlik so pragtige kind. Alle kinders is.

Daardie babadogtertjie het glad nie verdien wat ek gedoen en gesê het nie. In daardie hele argument is sy die enigste een wat werklik heeltemal onskuldig was en ek het geen reg gehad om met haar voorkoms te spot en haar te verneder nie, maak nie saak hoe kwaad ek was nie.

Die baba het down sindroom en ek voel dit het my woorde soveel erger gemaak.

Ek het geen reg gehad om so ernstige situasie te bespot of af te kraak nie.

Toe ek kwaad was het ek dinge gesê wat seermaak en eers nou dat ek kalmeer is en nugter daaroor dink, besef ek hoeveel krag my woorde gedra het.

Ek besef iemand kan my woorde lees en diep seergemaak voel daaroor, en ek is eerlik as ek sê ek skaam my daaroor.

Geen ouer van ’n down sindroom kind verdien om te lees wat ek geskryf het nie.

Dit was onregverdig, gemeen en onnodig van my en om net te dink dat mense my sien as iemand wat neerkyk op mense maak my baie ontevrede voel met myself en my aksies.

Ek wil met hierdie brief graag, uit die diepte van my hart, sonder enige verwagting of voorwaarde nie net aan die baba wat ek afgekraak het nie, maar ook aan elke down sindroom persoon daar buite en aan hul ouers en kinders omverskoning vra.

Lees ook: Pa wil Facebook boelie wat down sindroom kind slegsê in klas-aksie aanvat

As jy ’n kind het, of ’n familielid wat down sindroom het, en jy het seergemaak gevoel oor my aksies, dan vra ek jou om my asseblief te vergewe?

Ek het in ’n oomblik van woede opgetree sonder om te dink aan die nagevolge van my woorde en ek is bitter baie jammer daaroor dat my woorde mense seergemaak het, veral kinders. Hierdie hele voorval moes nooit gebeur het nie en ek is van plan om seker te maak so iets gebeur nie weer nie.

Ek sal verseker my woorde beter kies in die toekoms en ek sal die publiek aanraai om ook te dink voor hulle iets uitlaat, of dit nou in persoon of op sosiale media is.

Woorde dra soveel krag en dit kan jou opbou of jou afbreek.

Ek wil nooit weer kies om iemand, veral ’n onskuldige kind, af te breek nie.

Weereens wil ek sê jammer aan elkeen wat persoonlik of sielkundig hierdeur geraak is. Ek hoop dat elkeen dit binne sy of haar hart sal vind om my te vergewe.

Ek gee my toestemming dat u hierdie brief mag publiseer en deel net waar u wil as u voel dat dit sal help om die seer wat ek veroorsaak het te genees, en as dit sal help om ander ook te laat dink voor hulle sommer net praat of slegmaak op sosiale media.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button