Soos skop, skiet en donner toe Ma-Seven soos haas vlug
Half een vanmiddag het dit gelyk soos ’n skop, skiet en donner rolprent toe ’n GPF-lid ’n man plat geduik en ’n klomp ander voertuie van onder andere die korrektiewe dienste aangejaag gekom het.
“Hy het aan my geklou soos droëwors nadat ek hom platgeduik het en hulle hom probeer arresteer het. As hulle hom opgetel het, het hulle my saam opgetel,” vertel Herculaas Taljaard (Gemeenskapspolisiëringsforum, Sektor 1).
Herculaas en Bernard van der Berg (GPF Sektor 3.4) het op die noodkanale verneem dat die korrektiewe dienste opsoek is na ’n man. Daar is ook ’n beskrywing van die verdagte gegee.
“Dit was chaos op die kanaal en dit het geklink of die man ontsnap het.”
Daar is eers later verneem dat hy sy paroolvoorwaardes nie nagekom het nie en dat ’n lasbrief vir arrestasie uit was vir Joseph Mahlangu (beter bekend as Ma-Seven).
Herculaas en Bernard was op die hoeke van Vos- en Meyerstraat toe hulle die beskrywing hoor en dadelik die man, wat die beskrywing pas, in die parkie naby die OK Grocer in Mineralia opmerk.
“Bernard het die verdagte eerste gesien. Ek het uitgespring en in sy rigting gehardloop. Toe ek opkyk het al die voertuie van die ander GPF-lede vam Sektor 3 en 4, Mid Alarms en die korrektiewe dienste oor die veld aangejaag gekom. Hy wou omspring en weghardloop, maar ek was by hom en het hom plat getrek.”
Die man het egter soos ’n neet aan Herculaas geklou en was dit ’n groot gesukkel om hom los te kry, sodat die boeie om sy hande vasgemaak kon word.
Mid Alarms reaksielid, Bennie Landman, sê hulle het ook deel geword van die soektog, nadat lede van korrektiewe dienste vroeër vanmiddag na die reaksielede toe gekom het op die eiland in John Magagulastraat.
“Hulle het vir ons gevra om te help soek, want die man wat hulle soek, “hardloop soos ’n haas!”
Bennie, asook die ander reaksielede, Tiaan Louw, Ruan Cloete, Beneen Groenewald en Douglas Urquhart, het hulle saam met die korrektiewe dienste lede na OK Grocer gehaas toe hulle hoor die verdagte is opgemerk.
