Fietsryer met bierbottel oor kop geslaan op ‘veilige’ roete
’n Fietsryer het gister geveg om sy fiets te behou, nadat rowers hom met bierbottels oor die kop en rug geslaan het.
“Die een het net voor hulle weg gehardloop het, gesê ek moet hulle nie agtervolg nie, want hy het ’n mes,” het mnr. Eddie Naudé vanoggend gesê.
Die ander rower het, nadat hy hom met sy fiets agtervolg het, beweer dat hy vir mnr. Naudé wou beskerm teen die man saam met hom.
Mnr. Naudé het besluit om te vertel wat gebeur het, “om stappers en ander fietsryers wat met hul kinders gaan ry, te waarsku om nie alleen in veral die area waar die bloekombome is, te gaan ry of stap nie.”
Mnr. Naudé het kort voor 16:00 by die Tarriesbaan gaan fietsry. “Ek het juis op die baan gaan ry, omdat dit die veiliger opsie as op die pad is.”
Naby die bloekombome het hy teen die opdraende ’n keps in die paadjie sien lê. “Ek dink hulle het die keps daar neergesit, sodat ek moet stop om dit op te tel, maar ek het niksvermoedend verby gery. Ek dink dit is toe dat hulle besluit het om my op ’n ander deel van die baan te probeer beroof.”
’n Entjie verder, naby die aansluiting van Dam- en Viljoenstraat, het hy die twee mans in die paadjie sien loop en hulle nog gegroet. Hy was net verby, toe hy die slag op sy rug voel en stop.
Mnr. Naudé het omgedraai en die leë bierbottels in hul hande gesien. Hy het besef een van hulle het hom met die bierbottel op die rug geslaan.
“Die oomblik toe ek stop, het hulle gekom vir my. Ek het met my fiets probeer keer, maar die een het my oor die kop, op my valhelm, geslaan.”
Mnr. Naudé het op sy fiets probeer spring om weg te jaag, maar hulle het hom aan die hemp beetgekry en sy fiets het onder hom uitgeval.
Hy het weer die fiets beetgekry en dit as ’n skild tussen hom en sy aanvallers probeer indruk.
Op hierdie tydstip het hy mense in die omgewing gesien en hard begin skree: “Hey! Hey!” en beduie na die straat se kant toe. Dit het hulle ontsenu en nadat die een gedreig het hy het ’n mes, het hulle die bierbottels neergesmyt en gevlug.
Mnr. Naudé het die rowers op ’n veilige afstand met sy fiets gevolg en intussen ook die polisie gebel.
Die een rower het in Pongolastraat af gehardloop en hy is agter die een aan wat in Selonsrivierstraat af is. In Oranjestraat het hy langs hom inbeweeg en met hom begin praat terwyl hy aangestap het.
Die booswig het eers ontken dat hy deel van die gebeure was, maar later vir mnr. Naudé gesê dat hy hom wou beskerm.
Mnr. Naudé het probeer foto’s neem van hom, en hy het gekeer. Mnr. Naudé het egter weer: “Hey!” geskree, waarop hy vinnig opgekyk en hy ’n foto geneem kon kry.
“Hy het gesê sy naam is Sibuso Kwanze en sy maat is Tshepo Mazibuko.”
Mnr. Naudé het hom probeer besig hou met die hoop dat die polisie sou opdaag, “maar hulle het aan die ander kant van Oranjestraat na my gesoek en ek moes maar die man laat gaan.”
Hy het aangedui dat hy vandag ’n saak by die polisie sal gaan maak oor die gebeure.
Mnr. Naudé het ook gesê dat hy gaan terugkeer na Tarries om die twee bierbottels, wat hulle daar gelos het, te gaan haal, sodat hulle dit nie weer in ’n aanval kan gebruik nie.
•Hy het eers toe hy by die huis kom, gesien dat sy valhelm gebreek het van die geweldige hou van die bierbottel op sy kop. “Ek het daardie hou gevoel!”

