Elf ure in die Klein Olifantsrivier
Vir elf ure het Herculaas Taljaard die sterk strome in die Klein Olifantsrivier trotseer om ’n voertuig, waarin daar moontlik mense in kon wees, uit die rivier te kry.
Hy het gelukkig net ’n erge verkoue oorgehou.
Nadat die voertuig uit die rivier gesleep is, is die eienaar opgespoor.
Herculaas, lid van die gemeenskapspolisiëringsforum en bestuurder van Boomslang Insleepdienste, sê hy het omstreeks 10:00 Saterdag gehoor dat daar ’n voertuig in die rivier is agter die munisipale magasyn.
Mense wat besig was met ’n godsdienstige ritueel langs die rivier, het die voertuig in die rivier opgemerk en dadelik alarm gemaak.
Met hul aankoms op die toneel, saam met die Middelburg Brandweer, het Herculaas opgemerk dat die voertuig dakhoogte uitsteek, bykans aan die oorkant van die rivier.
’n Sluis was oop en die rivier se strome só erg dat niemand naby die voertuig kon kom nie.
Hulle het besef dat indien daar mense in die voertuig was, hulle reeds verdrink het.
“Iemand moes so gou as moontlik in die water kom, om die voertuig te anker, sodat dit nie wegspoel met moontlik liggame daarin nie.”
Die brandweer het vir hom ’n kleefpak gegee, asook ’n reddingsbaadjie, maar die reddingsbaadjie was te klein.
Met net die duikpak en ’n harnas om sy lyf, het hy in die rivier gespring, maar die rivier se strome was só sterk dat hy dadelik weggevoer is.
“Die stroom het my gevat en ek het dadelik op my rug gedraai.” Die water het hom gemaal tot naby die kant, waarna hy na veiligheid na die oorkant kon swem en weer kon opstap, waar hy die mense aan die ander kant kon sien.
Later is hy weer die rivier in en die brandweerlede het hom teruggetrek met die tou, “maar die water het die hele tyd oor my gesig gespoel en ek het byna verdrink.”
Hy was dankbaar toe die lede van Stasie 35 van die Nasionale Seereddingsinstituut (eMalahleni) opdaag om hom en die brandweerlede by te staan.
Travis (stasiebevelvoerder, Stasie 35) en Corbin Clack het ook hul wenas deurgetrek tot op die ander kant. Hulle is die water in en wou Herculaas help om die wenas aan die voertuig vas te maak.
Die strome was steeds te sterk en Travis het besluit om saam met sy span om eers te wag, dat die ergste water afloop nadat die sluis toegemaak is, sodat hulle kon voortgaan met die insleep van die voertuig.

Op sy beurt het Herculaas in die water gebly. Hy het op ’n stadium ook teen die stroom tot by die kar beweeg, waar hy op die dak gaan staan het. Die strome was egter te sterk om af te duik en te kyk of daar nog mense in die kar is.
Die NSRI het vir hom ’n reddingsbaadjie, asook ’n helm gegee om sy veiligheid te verseker.
Omstreeks 20:30 kon hulle uiteindelik die voertuig gehaak kry aan wenaste en dit uitsleep.
Dit is deursoek, maar daar is geen mense gevind nie. ’n Beursie met ’n bestuurderslisensie is in die kar gekry en een van die polisielede het die bestuurder herken.
Hulle het hom gebel en hy het na die toneel gekom.
Herculaas sê die eienaar van die kar het merke in sy gesig gehad en gesê dat hy aangerand is deur mense wat hom met ’n wit Volkswagen Polo van die pad probeer dwing het in Proteastraat.
Hy het in die grondpaadjie ingejaag en uitgespring, maar hulle het hom aangerand en hy het huis toe gevlug.
Volgens hom het hy nie geweet dat die aanvallers die kar teen die wal af, in die rivier in gestoot het nie.
• Mense op die toneel het ’n foto vir die joernalis en die polisie gewys wat van die voertuig geneem is toe dit nog dakhoogte uitgesteek het. Dit het gelyk asof daar koeëlgate in die windskerm is.
Nadat dit uitgesleep is, was daar egter geen skade aan die venster nie. Hulle vermoed dit was opdrifsels wat teen die venster gelê het.
• Die ander lede van die NSRI wat op die toneel gehelp het, is: Riaan Roux, Francois en Annemarie du Randt.
• Daar was ook verskeie brandweerlede, polisie, munisipale polisie, verkeerslede, paramedici en lede van die forensiese afdeling op die toneel.
