News

Dae sonder water maar munisipale bestuurder weet niks

Terwyl groot gedeeltes van Belfast al vir bykans ’n week sonder water sit, ontken die munisipale bestuurder van die Emakhazeni Munisipaliteit, mnr. George Mthimunye, dat daar enige watertekort is.

“Terwyl ons praat, het almal reeds weer water. Ek weet dat daar vanoggend ’n pyp gebars het, maar dit is reeds herstel,” het mnr. Mthimunye vir www.mobserver.co.za gesê.

Inwoners verskil van hom.

“Mnr. Mthimunye weet nie wat in sy eie dorp aangaan nie. In die laaste ses dae het groot gedeeltes van die dorp min of géén water gehad het,” het ’n inwoner, wat anoniem wil bly, vies gesê.

“Kom daar wel ’n bietjie water deur, dan is dit so ’n dun straaltjie dat jy nie eers behoorlik jou hande kan was nie!”

Afriforum het in Januarie ingespring toe hulle nie water gehad het nie en op strategiese punte water beskikbaar gestel.
“Nou moet ons maar net verlief neem dat ons nie water het nie!”

• Die strate (of gedeeltes van strate) waar daar probleme is met waterdruk of geen water nie, sluit in: Van Kraayenburg-, Fitzgerald-, Coetzee-, O’Neil-, Smit-, Du Plooy-, Burger-, Erasmus- en Leydsstraat.

• Mnr. Mthimunye het gesê dat die joernalis hom in kennis kan stel watter strate nog waterklagtes het. Die lys met straatname is gistermiddag vir hom gestuur, maar hy het nog nie daarop geantwoord nie.

Back to top button