News

Skool sluit oor waterkrisis

Belfast Akademie moes vandag vroeg sy deure sluit weens die voortslepende waterkrisis in Belfast.

Dit nadat die munisipale bestuurder van die Emakazeni Munisipaliteit, mnr. George Mthimunye, Maandag gesê het dat daar net daardie dag ’n waterpyp gebars het, wat dadelik reg gemaak moes word.

Die joernalis het vir hom later boodskappe gestuur met inligting oor strate wat op daardie stadium al ses dae sonder water was. Hy het egter nie daarop geantwoord nie.

Nou is dit agt dae en die hoof van Belfast Akademie, mnr. Fanie Barendse, moes vandag die skool vroeg laat uitkom, omdat die watertrok nie betyds opgedaag het nie.

Hy het saam met sy beheerliggaam innoverend opgetree toe die waterprobleme in Belfast begin het.
’n Drukpomp en Jo-Jo tenks is aangekoop en daar is gewoonlik 20 000 liter op die perseel beskikbaar.

“As die munisipaliteit se trok sy werk doen, dan bestuur ons die waterkrisis op die perseel.”

Vandag was die trok egter laat en toe hy omstreeks 11:30 by die toilette verbystap en sien dat daar nie water is om te spoel nie, het hy dadelik die besluit geneem dat ouers die leerlinge vroeg by die skool moet kom haal.

Teen 14:00 het die watertenker opgedaag en is die tenks weer volgemaak.

Honderde inwoners van Belfast moet met emmertjies hul hande was of daarin bad en hul toilette daarmee spoel.

Mnr. Barendse sê hy sal vanaand ’n boodskap vir die ouers uitstuur, dat hulle net vir die leerlinge more drinkwater moet saamstuur. Verder sal die skooldag aangaan soos normaal.

Van hul ouers is egter nie so gelukkig om watertenks te hê nie.

Sommige ouers het toestemming kom vra of hul kinders in gewone klere skooltoe kan kom, want hulle kan weens die waterprobleem nie wasgoed was nie.

“Ek is baie konsekwent. As die ouer wel in ’n area bly waar daar nie water is nie, laat ek toe dat die kinders in gewone klere kom, want dit gaan oor die akademie. Akademiese tyd is prioriteit, want oor ’n week begin die eksamen.”

• Watertenks het ook vir die Belfast Hospitaal water aangery.

• Letterlik tientalle inwoners en besigheidslui het www.mobserver.co.za gebel en gekla oor die waterprobleem.

• “Hulle sê ons moet net geduldig wees, hulle werk daaraan! Ek wens jy kon hierheen kom, ons as inwoners is moedeloos,” het me. Lizzie Botes gesê.
Sy het onomwonde, soos baie ander, gesê dat die munisipale bestuurder vir die joernalis “gelieg het”.

• Me. Hettie Annadale is net so keelvol. Sy is die eienaar van Texas Meat & Chicken.
“Om ’n slaghuis te bedryf, gebruik jy die hele tyd water, warm water, anders kry jy nie die vet skoon nie!”

Sowat ’n week gelede was daar nog ’n dun straaltjie water, maar die drukking was te min om die geiser se water warm te maak.
Van Saterdag af het hulle geen water nie.

Alhoewel hulle ’n 500 liter Jo-Jo tenk op die perseel het, moet hulle egter nou elke dag van Carolina af, waar hulle bly, vaatjies en kanne vol water maak, om die slaghuis aan die gang te hou.

Hulle maak die water nou met ’n spesiale oond, waarin hulle gewoonlik geprosesseerde produkte in maak, die water warm.

“Maar as jy toilet toe gaan, moet jy ’n emmer saamvat. As jy jou hande wil was, moet iemand met ’n emmer water oor jou hande gooi!”
Sy is dankbaar dat mense soos Afriforum gaan vra het by huise met boorgate dat ander inwoners daar water kan gaan tap.

“Ek weet daar is twee of drie huise wat hul boorgatwater beskikbaar gestel het. Maar hoe kan ’n bejaarde persoon ’n groot kan vol water gaan vol maak en optel?”

Me. Annandale sê dat daar ses besighede in die Belfast Winkelsentrum in Bhekumusi Masangostraat is, wat nie water het nie en dat daar ook drie woonstelle aan die agterkant van hul sentrum ly onder die waterprobleem.

• Me. Annandale het ’n video gestuur om te wys hoe hulle met kanne moet sukkel.
Op Facebook het verskeie mense aggressief kommentaar gelewer oor die waterprobleem.

• Nelmarie Mostert du Plessis: Ons is nou op dag agt. Daar is in van die dele ’n bietjie water maar nie sterk genoeg om warem water te hê nie, selfs so swak dat deur dag is daar niks en in nag loop van die mense se Jo Jo tenks wel vol, maar baie stadig. Dit gaan van Januarie af so, dan is daar, dan is daar nie. So gaat ons aan.

 Lana Engelbrecht: Ek bly al 22 jaar op die hoek van Erasmus- en MacDonaldstraat en daar was nog nooit waterdruk nie. Belfast is een van die dorpe waar mense probeer help, maar die mense in die munisipaliteit gooi ’n dowe oor en blinde oog. Min mense wat die werk kan doen en hulle probeer hulle bes.

• Johan Boshoff (voorsitter, Afriforum Belfast): Al die besighede ly onder die waterprobleem waarvan die munisipale bestuurder asook die burgemeester deeglik bewus is. Daar is mense in die onderkant van die dorp wat al vir langer as ’n jaar sonder water sit. Water word aangery na die hospitaal, skool en ander besighede. Die watertrok gaan maak vol by die Belfastdam. Waar is die higiëne heen? Dieselfde gaan oor die krag wat onveilig is en meer af as aan is, as gevolg van die tekort aan behoorlike voorkomende onderhoud. Die paaie is in haglike toestand en versleg by die dag.

• Maggie Schoeman Steenkamp: Scheepersstraat het al vir meer as ’n maand nie water nie!

• Claudia Louw: Daar is géén water in Belfast vir sewe dae nie. Natuurlik het die uitbreidings (buite die dorp) water en krag, anders het George Mthimunye dalk ’n moordsaak op hande gehad! Die staatsinstansies wil net hulle koppe in die grond druk soos volstruise en hoop al die probleme gaan net weg.

Back to top button