Aanvallers ‘was vriendelike gesinnetjie met pasgebore baba’
Stank vir dank! Die mans wat ’n bejaarde broer en suster aangeval het, het vleis en groente, mieliepap en selfs goedjies vir ’n pasgebore baba gekry, voordat hulle in wreedaards verander het.
Haar getraumatiseerde bejaarde ma en oom met ernstige beserings aan hul lywe, sal die res van Gerda Kyprou se lewe by haar spook.
“Ons was weg vir sake in Johannesburg en toe kry ons gisteraand kort voor tienuur daardie horribale oproep! Hulle het ’n vrou aangeval wat hulle ouma kon wees! Hulle het my ma en oom Gert vir géén rede aangeval nie, vir daardie bietjie geld, miskien R1 000! Hulle is sadistiese kriminele!” het me. Kyprou pas kwaad vir www.mobserver.co.za gesê.
Sy onthou die groepie mense wat ’n maand gelede op die plaas in die Stoffberg omgewing begin werk het.
“Hulle het soos ’n gesinnetjie gelyk. Die jong mans met hul girlfriends met ’n pasgebore baba. Hulle het armsalig daar aangekom.”
Me. Kyprou sê dat hulle almal in hul vroeë twintigs is en baie vriendelik was.
“Die mans het gesê hulle is almal familie van mekaar. Ons het nie hierdie sien kom nie. My vertroue in mense is verskeur. Ons was so goed vir hulle, want ons het geweet hulle is arm. Ons het vleis en groente, mieliepap en goedjies vir die baba gegee. Selfs geld voorgeskiet.”
Wat haar die meeste omkrap, is dat hulle toegeslaan het nadat sy en haar man vertrek het.
“Hulle het net gewag dat ons ons rûe draai en soos lafaards op my ma-hulle toegesak!”
Me. Kyprou sê sy glo die drie mans kon haar ma en oom Gert doodgemaak het, “maar ek dank die Here dat hulle hulle nie doodgemaak het nie, maar daardie mans is gevaarlik, hulle sál iemand anders doodmaak.”
Uit die gesprek met haar ma, het sy ’n prentjie geskets van wat gisteraand gebeur het.
Lees ook: Bejaardes met pangas aangeval: “Dit was ’n bloedbad!”
Me. Luus en haar broer was besig met aandete, toe daar ’n klop aan die deur was.
Mnr. Joubert is na buite, waar die groep hom oorval het.
“My ma was binne nog besig om te eet en onbewus van die gebeure by die deur. Die volgende oomblik het hulle met haar broer by die deur ingestorm. Hulle het haar bord gegryp en haar daarmee oor die kop geslaan!”
Daarna is die twee bejaardes met vadoeke en T-hemde wat die aanvallers in die kaste gekry het, vasgebind en hulle is erg aangerand.
“Hulle het haar verskriklik met die platkant van die panga op haar arms en bene geslaan. Vir oom Gert het hulle met die panga oor die kop geslaan.” Mnr. Joubert se kop is oopgekloof tydens dié gewelddadige hou.
Nadat hulle aanmekaar geld geëis het en tussen R500 en R1 000 uit hul beursies kon opdiep, het hulle die twee bejaardes na die badkamer gesleep.
Kort nadat die rowers weg is, het haar ma na die bure geloop om hulp te kry.
Me. Kyprou sê buiten die kontant, hul selfone, ’n televisie en haar ma se kar, vermis hulle ook twee kettingsae.
•Sy het net met lof gepraat van beide al die Laersdrif- en Middelburg polisielede.
“Die polisie het gereël vir ’n ambulans en omdat ons nie in die huis kon ingaan nie sodat die polisie hul werk op die misdaadtoneel kon klaarmaak, het ek agter die ambulans aangery. Hulle bly die hele tyd met ons in kontak en laat ons weet van elke greintjie inligting wat hulle kry.”
•Me. Kyprou was ook beïndruk met die hulp wat haar ma en oom by die Middelburg Hospitaal gekry het.
“My ma is nog daar vir waarneming, maar my oom het baie ernstig seergekry. Hulle het ’n breinskandering van hom geneem. Hy is darem die hele tyd by sy positiewe.
•Sy wil graag ook almal bedank wat gisteraand op enige wyse hulp verleen het.
•Die registrasienommer van me. Luus se grys Opel Corsa wat geroof is, is DNY075MP.
