Twee vas na huis stuk-stuk weggedra is
Twee inbrekers is gistermiddag net voor 16:00 in Mimosastraat in Kanonkop aangekeer by ’n huis wat al wekelank gestroop word.

Die huis het ’n nuwe eienaar, maar dié knap eers die vervalle woning op voordat hy gaan intrek.
Volgens Kanonkop Sektor-4 GPF-lid Joe van Rooyen, was die huiseienaar verheug dat twee mans, wat in die huis oornag het, vasgetrek is.
“Soos hy dinge in die huis regmaak en vervang, so is dit gesteel,” verduidelik mnr. Van Rooyen.
Die huis se vensters en deure is uitgebreek.
Sektorlede het omstreeks 15:30 ’n oproep ontvang dat daar beweging by die huis is.
Met lede se aankoms is twee mans met ’n groen Wheelie-asdrom met ’n klein kroegyskas buite die erf gevind.
Hulle is vasgetrek en die polisie is geskakel.
Die woning se palissade-heinings is uit die grensmuur gebreek, vir toegang tot die huis.
Mnr. Van Rooyen sê die hele woning is stuk-stuk weggedra.
“Al die wasbakke, pype, kabels, ag alles van wat verkwansel kan word is uitgepluk,” sê mnr. Van Rooyen.
Een van die mans wat aangekeer is, is al vantevore gevang vir ’n streep inbrake in Wendy-huisies in Kanonkop.
“Dis duidelik dat hulle op sekere plekke fokus,” sê mnr. Van Rooyen.
“Gelukkig is hulle nou van die strate af,” las hy by.
Die huiseienaar, van Mhluzi, het saam met die polisie by die toneel opgedaag.
Hy was vol lof vir die Sektor-4 lede wat hom bygestaan het, nadat hyself verlede week ’n man in sy huis betrap het wat besig was om pype te steel.
