News

Bye is aggressief, skuil onder tuindromme

Plaaslike byeboer, Martin Nel, sê dat byeboere in die omgewing nie meer kan byhou met versoeke van inwoners om byneste te verwyder nie.

In al sy jare as byeboer is dit die eerste keer dat hy soveel korwe in die dorp sien. Twee weke gelede het hy reeds meer as 64 versoeke ontvang om byeneste te hervestig.

Die behoefte bly groei en hy kry meer as tien oproepe ’n dag.

Martin sê dat die seisoenverandering bydrae tot die skielike toename omdat bottende bome die bye lok. Hulle korwe is vol heuning en dit maak hulle meer aggressief. Die hitte dra ook by tot die aggressie.

Martin vertel dat die hoë byepopulasies ’n goeie teken is vir die omgewing omdat hulle ’n groot rol in die ekosisteem speel.

“’n Goeie ding is dat plaagbeheer hulle nie meer mag doodmaak nie.”

Dit hou egter ’n groot gevaar in vir byeaanvalle en daarom het Martin raad aangebied oor wat om te doen indien daar ’n byenes op iemand se erf is.
As die nes na ’n week nie geskuif het nie, moet ’n byeboer ontbied word om hulle te hervestig.

Hy het opgemerk dat daar ’n tendens op die dorp is, wat tuindromme betref.

“Baie inwoners laat hulle tuindromme op bande staan en die bye is lief daarvoor om in die band nes te maak. Dikwels sal die koek gevorm word aan die onderkant van die drom en wanneer tuindienste die drom wil leeg maak steur dit die nes, wat tot ’n aanval kan lei.”

Hy vertel ook dat mense eerder nie moet grassny as daar ’n nes op die erf is nie omdat die klank hulle aggressief sal maak.

In die geval waar die bye geïrriteerd raak, kan mens met ’n sagte mis hulle nat spuit maar hulle moet baie versigtig benader word.

“Mense moet hulle geensins probeer uitrook nie.”

Martin sê dat die plaaslike byeboere tans besig is om jong belangstellendes op te lei.

Indien iemand belangstel in opleiding of die hulp van ’n byeboer benodig, kan hulle Martin kontak by 083 655 0179.

Back to top button