News

Drie motorfietse in stukke by Uitkyk “chop-shop” gevind

Drie motorfietse wat verlede Donderdagnag in Blesbokstraat, Kanonkop, uit ’n motorhuis gesteel is, is Vrydagmiddag laat in stukke by ’n sink-struktuur in die Uitkyk informele nedersetting gevind.

Polisie vermoed dat die sinkhuis as “chop-shop” ingespan word om gesteelde voertuie en motorfietse van parte te stroop.

Een persoon is gearresteer terwyl ’n aantal ander van die perseel af gevlug het.

Die verdagte sal na verwagting vandag in die hof verskyn, nadat al drie motorfietse in stukke op die perseel gevind is.

Die motorfietse is gestroop vir parte en die parte wat herwin is, word tans by die polisiestasie geskut.
Meer arrestasies word verwag.

Die eienaar van die motrofietse, mnr. Ben Roestoff, sê dat die motorfietse tussen 00:00 Donderdagnag en 06:00 Vrydagoggend uit sy motorhuis gesteel is.

Lees ook: Drie motorfietse uit motorhuis in Blesbokstraat gesteel

Polisie vermoed dat dieselfde bende by die onlangse vlaag motorfietsdiefstalle van Kanonkop tot Mineralia verantwoordelik is.
Mnr. Roestoff sê die hek is eers oopgebreek, waarna die boewe die motorhuisdeur ook oopgebreek het.

Dis onduidelik hoe die bende weg is met die motorfietse maar die vermoede is dat dit met ’n bakkie, wat by die ander diefstalle ook betrokke was, weggery is.
’n Wit, Ford Ranger bakkie, is in vorige diefstalle gebruik.

Mnr. Roestoff sê dat hy onseker is of die motorfietse herstel kan word omdat “ek nog self nie gesien het wat oorgebly het nie”.
Hy is ook versoek om van die toneel op Uitkyk af weg te bly.

Die skade aan sy eiendom en die motorfietse word op meer as R200 000 geraam.

’n GSXR 1000 Suzuki, ’n YZ 250 Veldfiets en ’n LTZ 400 vierwielmotorfiets is in die inbraak gebuit.

• Twee motorfietse is onlangs in Kogelstraat gesteel, terwyl die derde, ’n 65cc Husqvarna veldmotorfiets wat aan negejarige Christiaan Bellinghan behoort, waarmee hy aan Motocross byeenkomste deelneem, in Komatistraat gesteel is.

• ’n Groep diewe het ook op 28 Oktober, om 01:30, op hul mae by ’n erf in Witsenbergstraat, Aerorand, ingeseil agter ’n waterponie aan.

Back to top button