Tandarts assistent: “God se hand was oor ons almal!”
Monique Albasini, ’n jong tandarts assistent by dr. Rassie Erasmus se spreekkamers in die Fountain Corner gebou, sê “God het sy hand oor ons almal gehad,”

’n Jong tandartsassistent, Monique Albasini, sê “God se hand was oor ons almal,” nadat mnr. Willie Bester, die man wat gister ’n petrolbomaanval op Jud’sies geloods het, ook ’n skoot op haar afgevuur het.
“Ek het ’n gegil gehoor, gevolg deur ’n harde klapgeluid, waarna ek uit die spreekkamer is en gesien het Jud’sies brand,” onthou Monique.
Sy het vir ’n nabygeleë besigheid, Matrix, geskreeu om die brandweer te ontbied, waarna sy ook opgemerk het dat mnr. Bester se voertuig in ligte laaie is.
“Ek het aanvanklik gedink dat mnr. Bester dalk iets vlambaar vervoer het wat aan die brand geslaan het,” sê sy.
Toe sy naderstap en vir Bester vra of sy kan help, het hy sonder om ’n woord te sê, sy wapen op haar gerig en ’n skoot afgetrek.
“Die koeël het my bobeen rakelings gemis, ek kon voel hoe hy verby my skiet,” sê Monique.
Sy het na Go Fish langs die spreekkamer gehardloop en personeel daar gesmeek om die polisie te skakel.
Mnr. Bester is intussen by sy winkel in, waarna me. Albasini terug na die praktyk gesnel het, waar sy haarself in die kantore toegesluit het.
“Ek het in ’n agterste kamer gaan skuil, waar ek minstens 15 skote en talle plofslae hoor afgaan het, dit was soos ’n oorlogsone”.
Toe sy ’n man met brandslange by mnr. Bester se voertuig gewaar, het sy haar kans gewaag, die deur oopgesluit en na die oorkantste sentrum waar Genelli’s is, gehardloop.
Sy het op die stadium nie geweet dat Bester Jud’sies met petrolbomme bestook het en ook op die eienaars, Kappie en Judy-May Kapp, geskiet het.
Bester het ook sy eie voertuig aan die brand gesteek met ’n petrolbom, voordat hy dood aangetref is in sy winkel Horlosie Kliniek.
Die Kapps en Bester se swaer, Willie Pretorius, wat die Brother borduurwinkel langs Jud’sies het, het intussen agter deur hul eie besighede na veiligheid gevlug.
Me. Albasini sê dat die praktyk nog nooi probleme met mnr. Bester gehad het nie, maar dat hy stil en teruggetrokke was.
Die salon langs Bester se besigheid was reeds toe.
Die eienaars sê dat hulle ook nog nooit probleme met mnr. Bester gehad het nie, “maar daar was beslis ’n verandering in hom Donderdagmore”.
“Jy kon sien iets het aan hom gevreet”.
Me. Marita Hatting van Azalea Bloemiste, op wie mnr. Bester sy wapen in haar winkel gerig het met die woorde “ek skiet jou ook vandag vrek,” sê sy’t “nog nooit met hom woorde gehad nie, geen probleme nie!”.
Sy het Vrydag bewend vertel hoe Bester haar in haar bloemiste langs sy besigheid gekonfronteer het, voordat sy die deur kon sluit.
Met die ontploffing is al Horlosie Kliniek en Azalae Bloemiste se ruite bo in die winkel uitgeskiet.
“Genadiglik het die vensters onder die ontploffing weerstaan,” het sy gesug.
Die Kapps was die teiken van mnr. Bester se woede.
Me. Albasini sê “almal wat hulle wou help was in die oom se spervuur”.
“Ek het niks geslaap nie!”
Mnr. Pretorius, wat meer as 30-jaar met mnr. Bester se suster in ’n verhouding is, wou hom nie oor die gebeure uitlaat nie, “dis nie my plek nie”.
Hy het wel gesê dat mnr. Bester lank by hulle gebly het en “herhaaldelike pogings aangewend is om hom op die regte pad te hou”.
Hy het navrae na mnr. Bester se twee seuns verwys.