Bobbejaan so mak hy doen toertjies
Of hy van die sirkus af kom en of hy deur ’n inwoner aangehou is sal mens nie kan sê nie, maar ons bobbejaan is mak!
Deon Cornelius van Ubhetyan O Afrika vertel dat hy weer opsoek is na die bobbejaan mannetjie wat hy Desembermaand gevang het.
Die bobbejaan het bejaarde inwoners in Kosmospark op hol gehad en verskeie erwe in Aerorand besoek voordat Deon dit reg gekry het om hom te flous.
Die bobbejaan het verlede week sy weg terug gevind na Middelburg toe waar hy Woensdag en weer Vrydag in Kanonkop gesien is.
Na ’n slapie hoog in ’n boom het hy Saterdagoggend weer die pad gevat en is nog nie weer gesien nie.
Deon vertel dat hy ’n hok vir die bobbejaan sal uitsit, maar dat inwoners hom moet kontak as hy weer gesien word.
“Dis verseker die selfde bobbejaan wat ek in Desember gevang het en hy is mak.”
Deon vertel dat die bobbejaan gesit en toertjies doen het in die hok en selfs kos uit sy hand geneem het.
“Ek vermoed maar dat iemand hom as troeteldier aangehou het want hy is beslis mense gewoond en baie mak.”
Toe Deon gevra is of die bobbejaan moontlik terug gekom het opsoek na sy huis het hy gesê dat dit ’n sterk moontlikheid is.
Inwoners wat die bobbejaan sien word gevra om Deon te kontak by 061 588 3714.
