Hartroerende soektog na hond – ‘sonder Mielie is Brood net Brood’
Mielie is nie sommer so hond nie, Mielie is van die Jock of the Bushveld stoffasie gemaak. Hy is al deur ’n kameelperd getrap, deur ’n vlakvark geskraap, deur zebras geskop en die spoegkobras ken hom al op die naam, maar nou is Mielie weg.
Sy eienaar, Kevin Ruthven, het vanoggend met trane wat oor sy wange stroom in die redaksiekantoor kom smeek vir hulp.
Soos die hartverskeurende verhaal van Jock of the Bushveld, pleit hy vir hulp in die soektog na sy hond wat op die oewers van die Olifantsrivier verdwyn het. Oproepe van so ver as Lydenburg is al ontvang om die storie van “Mielie van die Hoëveld” te vertel.
Mnr. Kevin Ruthven en sy twee honde, Mielie en Brood, het legendes geword onder vriende en gaste.
Brood is besig om hom dood te treur nadat Mielie Maandag weggeraak het.

“Mielie en Brood is onafskeidbaar en Brood is verlore sonder sy makker. Sonder Mielie is Brood net Brood.”
Kevin het Mielie gekry toe hy drie jaar gelede na ’n plaas net duskant Doornkop, Kingdom Trails, getrek het.
Mielie is ’n Australiaanse beeshond gekruis met ’n foksterriër.
“Mielie is ’n regte boshond, en elke tree wat ek op daai plaas gegee het is hy saam. Hy is taai en ken die plaas beter as wat ek self doen.”
Kevin vertel dat Mielie so bekend geraak het onder die mense wat hulle ontmoet het, dat selfs Riana Nel al ’n liedjie oor hom en sy avonture geskryf het.
“Hy is taai! Hy is al deur ’n kameelperd getrap, deur ’n vlakvark geskraap, deur zebras geskop en die spoegkobras ken hom al op die naam!” het Kevin met ’n gebroke stem vertel.
Mielie was ook lief daarvoor om deur die Olifantsrivier agter die waterbokke aan te jaag, en Kevin glo dis wat gebeur het Maandagmiddag toe Mielie verdwyn het.
Die drie van hulle is veld toe om in ’n grot op een van die plase te gaan slaap en Mielie het op die rivier se oewer gespeel. Kevin het vir ’n oomblik sy rug gedraai, en toe hy weer omkyk is Mielie skoonveld.
Kevin het gordelroos wat onlangs geweldig opgevlam het. Ten spyte van erge pyn, is hy elke dag vroeg uit veld toe om te bly soek na Mielie.
“My grootste vrees is dat hy seer gekry het en iewers lê en wag vir my, en ek kry hom nie.”
Hy vertel ook dat Brood vir die eerste keer nie eers by hom in die bed slaap nie.
“Ek het gehoop iemand met ’n spoorsnyhond sou bereid wees om te help, maar hulle vra omtrent R2000 per uur.”
Kevin hoop net dat iemand met spoorsnyhond of hommeltuig bereid sal wees om aan die oorkant van die rivier te help soek.
“As hy aan ons kant was, het hy of terug gekom of ek het hom iewers gevind.”
Indien iemand bereid is om te help kan hulle vir Kevin ’n WhatsApp stuur op 076 737 3910.

• Kevin en Mielie-Brood is so bekend onder gaste dat hulle selfs ’n Facebookblad (Bergloper en MielieBrood) met 1 300 volgelinge het.
Kevin het die volgende hartroerende brief vir Mielie gedeel:
“Ai Mielman. Waar is jy my brak? Dit is nou meer as 24-uur. Die tweede aand sonder jou. Die hartseer druk my keel toe… ek kry jou nie… ek hoor jou nie… jy is net weg. Jy is so deel van my… ek bid jy is ok en is op pad huis toe.
Here asseblief, ek smeek vanaand, hou hom veilig tot ek hom kry… as hy seer het, help hom tot ek daar kom.
Mielie, ek sal nie ophou soek nie, byt vas my brak. Ek het vandag 15 kilometer in jou vallei gesoek, as jy nie my stem ken nie, dit is ek. My keel is rou geroep na jou.
Ek en jy is van dag een saam op Kingdom, niks is dieselfde nie, niks is reg nie. Brood soek jou orals, hy maak tjankgeluidjies, hy weet jy is weg.
Ek en jy het ’n extra special connection, ’n bond, ons is ’n pack, ons pack kan nie nou breek nie. Ek is nie sterk genoeg nie, ek het jou nodig en sal nie ophou soek nie.
Jy ken die plaas Mielie, hy is in jou bloed, ek kom jou moreoggend weer soek, help my, waar ookal jy nou is. Jy is nie alleen nie Mielman, my hart, gedagtes, gebede, liefde is by jou, voel dit… dit breek my hart dat ek jou nie kan help veilig hou vanaand nie, mis jou.”
