Dwelmverslaafde vriend sterf in sy arms
Die gebeure waar hy Quinton Cloete (45) se lewe probeer red het, speel aanmekaar in Jurie Dearlove se gedagtes af.
“Ek en ’n onbekende man het mond-tot-mond asemhaling gedoen, maar sy oë was klaar nie meer by ons nie. Ons het steeds probeer.”
Volgens Jurie het hulle gesukkel om ’n ambulans in die hande te kry en was Quinton, ’n heroïnverslaafde, al bykans ’n uur dood toe die ambulans daar aankom.
Quinton het op 12 Februarie op ’n sypaadjie in Komatistraat gesterf.
Hy het vir almal gesê sy naam in Quintin Coetzee, maar sy familie het verlede week gesê hy het dit gedoen, omdat hy nie sy oorlede pa se naam en van “deur die modder wou sleep nie.”
Dit is hoekom hy aanvanklik geïdentifiseer is as Quintin Coetzee,
Jurie en sy vrou Elanie, wat op ’n plaas op Stoffberg bly, het op 11 Februarie by Quinton kom kuier in die dorp.
Hy is na die seilskuiling in ’n bos langs Komatistraat.
Daar is vir hulle gesê dat Quinton staan en bedel op sy gewone plek tussen KFC en Food Lovers Market.
“Toe ons daar kom, het hy op die sypaadjie gesit. Op die manier wat hy gesit het, kon ons sien hy is nie lekker nie en het hom terug gehelp tot by sy tent.”
Die paartjie het die nag by hom deurgebring, “omdat hy baie siek was.”
Die Sondagoggend was hy geweldig dors en het Elanie by een van die huise in die omgewing ’n bottel gaan soek om vir hom water te kry.
Jurie was baie bekommerd, “want hy was al van Saterdagaand af baie deurmekaar en het die hele tyd gesoek na iets.”
Quinton het self gaan water drink by ’n kraan en toe hy nie terugkom nie het Jurie na hom gaan soek.
“Ek het nog ’n hartklop gevoel en het hom op sy sy gedraai.”
Jurie het aanmekaar vir hulp geroep.
Elanie het gehoor iemand het inmekaar gesak in Komatistraat.
Die oomblik toe sy sien wat op die sypaadjie aangaan, het Elanie met haar selfoon probeer hulp ontbied, maar kon nie ’n ambulans in die hande kry nie.
Sy is na die vulstasie op die hoek van Oranje- en John Magagulastraat en van daar af is ’n ambulans gebel.
Jurie, wat weet dat Quinton ’n heroïnverslaafde is, het gedink dat hy dalk ’n oordosis geneem het en het water agter op sy nek begin gooi.
Terwyl hy besig was met noodbehandeling, het Sakkie en Ampie Venter, wat langs Quinton in die bos bly, ook opgedaag.
Jurie vermoed dat Quinton gesterf het weens ’n maagseer of die groot liesbreek “wat hy elke keer self teruggedruk het. Hy was die hele tyd in pyn.”
• Jurie en Quinton was saam in HTS Middelburg en het groot vriende geword.
Hy onthou met ’n glimlag hoe Quinton “nog vir my rampartytjie destyds sy beenhare geskeer het en ek geblinddoek gedog het hy is ’n stripper.”
Jurie sê Quinton was egter ’n diep gelowige man en het oral met sy Bybel gegaan.
“Hy het altyd van die Here gepraat as ek by hom was en die aand voor sy dood het hy ook van Hom gepraat.”
• Jurie het na sy afsterwe die Bybel gevat en gehou tot dit Vrydag by hom gehaal is om vir Quinton se ma te stuur.
