Trane nadat agtjarige se fiets gesteel word
Klein Jennifer de Beer (8) sukkel om die trane te keer... haar nuwe fiets, waarvoor haar pappa gespaar het, is gesteel.

“Shame, sy was nog so trots toe sy ’n fiets gekry het met ratte,” het haar pa, Gert, gesê.
Al het hy nie ’n werk gehad nie, hy en sy verloofde gespaar “en geld bymekaargeskraap” om vir hul twee dogtertjies elkeen ’n fiets te koop.
Hulle huur ’n woonstel in Granaatstraat (Kanonkop) en het oomblikke gelede agtergekom dat die fiets gesteel is.
Die mense oorkant die pad, wat lede is van die Dagpatrollie, het hom aangeraai om hulle te kontak. Die Dagpatrollie is besig om die dorp te fynkam vir die fiets.
Mnr. Arthur Hill (Dagpatrollie) sê hulle het ook reeds pandjieswinkels genader en gevra dat hulle moet laat weet, sou die diewe die fiets probeer verkwansel.
Mnr. De Beer vermoed die diewe het oor die muur gespring om by Jennifer se fiets uit te kom. Hulle het nie die vyfjarige dogter se fiets gevat nie.
Hy weet nie of die fiets laasnag of vroeg vanoggend gesteel is nie.
“Daar is nie plek in die woonstel om die fietse binne te hou nie. Ons het nou maar ’n ketting gaan koop om alles vas te sluit.”
• Dit is ’n blou Raleigh (Delta model) fiets en as enige persoon moontlik die fiets herken, bel mnr. De Beer by 079 995 6623 of mnr. Hill by 083 870 9693.