Motorfietsongeluk eis man wat almal wou help
Jaco Erasmus, die man wat sy laaste vir ander sou gee, het Vrydagaand in ’n motorfietsongeluk op die Vandyksdrifpad gesterf.
Sy ma, Etretia Klopper, sê hy het met sy motorfiets vanaf hul werkwinkel in Wichtstraat gery op pad na sy huis by die Golden Mile Estate op die Duvhapad, toe die ongeluk gebeur het.
Jaco se vriend, Frank Petzer, het agter hom aangery met sy (Jaco) se Ford Icon.
Jaco se motorfiets het probleme op die pad ondervind en op ’n draai het die motorfiets oorbeweeg in die aankomende verkeer en die veld in gerol.
Mnr. Petzer het hom in die brandstrook van ’n plaas gevind en die motorfiets het etlike meters verder in die veld ingeploeg.
Me. Klopper sê alle aanduidings is dat haar seun opslag dood is.
Sy onthou met ’n glimlag hoe hulle nog in Maart sy 40ste verjaardag gevier en sy “soos ’n tipiese ma” vir hom ’n koek met kerse gereël het.

“Hy het laggend gesê: ‘Ma ek is 40 en nie vier nie!’ maar ek het gesê hy moet stilbly en die kerse doodblaas!”
As sy haar kind moet beskryf, dan onthou sy hoe ’n spesiale saggeaarde hart hy gehad het. “Hy sou sy laaste gee om te help. Op ons ondersteuningsgroep het sy neef gesê dat Jaco 366 grade sou draai om net te help. Jaco was my alles.”
Talle sal hom onthou as die platejoggie by Eagle Inn, maar ook die talentvole musikale man wat graag kitaar gespeel en gesing het. Hy het ook gereeld kareoke’s en fondsinsamelingsprojekte gereël.
Hy word oorleef deur sy dogters McKayla en Dominique, lewensmaat Elise Bekker, ma Etretia, pa Koos Erasmus, stiefpa Nico Klopper, susters Maggie en Zeta en broer Jannie.
Die begrafnis is volgende Vrydag (12 Mei) om 13:00 uit die Hervormde Kerk, Noord gemeente in Kanonkop.
