News

Kragopwekkerbende slaan toe by sakesentrum

’n Splinternuwe kragopwekker is minute gelede by Fountain Corner gesteel.

’n Bende het die afgelope drie weke talle kragopwekkers op die dorp gesteel.

Mnr. Petru Venter, bestuurder van die Fountain Corner Sentrum, en eienaar van Go Fish, glo dat ’n silwer Mercedes bussie wat kort voor beurtkrag om 15:00 by die sentrum ingery, en toe minute later weer uitgery het, kan moontlik meer lig op die diefstal werp.

Mnr. Venter sê dat die kragopwekker aangekoop is nadat die sentrum in Januarie vanjaar erg in ’n petrolbomaanval beskadig is.
Kraglyne deur die hele sentrum is tydens die petrolbomaanval deur mnr. Willie Bester, beskadig.

Mnr. Venter sê dat die kragopwekker meer as R10 000 gekos het.

“Dis ’n groot slag,” sê hy.

Die kragopwekker was reg langs die gebou, waar hy nog altyd gestaan het.
Hy word aangeskakel om die winkel oop te hou tydens beurtkrag.

Hy was nie self by die winkel nie, en sê dat sy vrou, Erika, die diefstal ontdek het toe sy om 15:00 uit is om die kragopwekker aan te skakel.

Huurders van die sentrum het vir hom gesê dat hulle die silwer Mercedes bussie, met getinte ruite agter, sien inkom, en kort daarna weer sien uitry het.
Die insittendes van die bussie word gevra om mnr. Venter te kontak.

Mnr. Bester, wat homself om die lewe gebring het in sy brandende horlosiewinkel, het eers petrolbomme na Jud’sies toe geslinger, en ook op die eienaars Judy-May en Frikkie Kapp geskiet.

Daarna het hy sy eie voertuig voor die winkel aan die brand gesteek en toe ook die Horlosie Kliniek.
Terwyl die horlosiewinkel in ligte laaie was, het hy homself in die kop geskiet.

Die sentrum was dae lank sonder krag weens veiligheidsredes nadat verskeie winkels brandskade opgedoen het.

Back to top button